Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klipmonument eer gesneuweldes in Slag van Modderrivier

Dit is vir die vrywilligers wat ’n klipmonument en ’n gedenksteen oprig vir die Slag van Modderrivier, wat byna 120 jaar gelede hier in die Noord-Kaap plaasgevind het, harde maar sielvolle werk.

Die gedenksteen word op 30 November op ’n spesiale seremonie in die agtertuin van die Crown & Royal Hotel in Modderrivier, suid van Kimberley, onthul. Die projek is deur ’n groep Anglo-Boereoorlog-entoesiaste begin ter ere van die burgers en agterryers wat in die veldslag gesterf het.

Wickus du Plessis, voorsitter van die Burgermonumentkomitee van Twee Riviere, sê dit is nie bekend waarom dié veldslag op 28 November 1899 nooit met ’n steen gedenk is nie.

Hy en Leon van Wyk, hoofbouer wat namens Shaun Engels die monument opgerig het, het Vrydag die laaste afrondingswerk gedoen. Verskeie borge het geld en boumateriaal vir die projek geskenk.

Leon van Wyk en Wickus du Plessis by die monument en gedenksteen wat op 30 November in Modderrivier ter ere van die gesneuweldes van die Slag van Modderrivier onthul gaan word. Foto: Charné Kemp

Du Plessis sê hy weet nie of van sy voorouers hier geveg het of dood is nie.

“Dit moet vreeslik wees om geliefdes in ’n oorlog te verloor. Dit is die minste wat ons kan doen, om eer aan hulle te betoon. Daardie mense het hul lewens opgeoffer sodat ons vandag hier kan wees.”

Van Wyk sê sy voorsate was agterryers vir die burgers.

“My oupa was Malgas van Wyk, wat ook my tweede naam is. My pa, wat onlangs op 81 dood is, het vir my lang stories van sy oupa-hulle vertel. Hy het vertel van die tyd toe die mense hier baklei het en dood is; dit was ’n leeftyd se storie wat ons as kinders gehoor het.

“Ek is gewoond aan bou, maar dié klippe was enorm en baie swaar.”

Du Plessis sê die klippe kom uit die omgewing.

“Dekades gelede was hier meer stasiegeboue weerskante van die spoorlyn. Toe die nuwe brug ’n paar jaar gelede gebou is, is van die gekapte klippe en fondamente ontbloot. Klippe het ook in hope oral in die Modderrivier gelê.”

Die monument is in die spesifieke styl gebou nadat hy en Steve Lunderstedt geskiedkundige monumente elders in die land en wêreld bestudeer het.

“Die gedenksteen is op die hotel se terrein opgerig om dit teen vandale te beskerm. Enigeen kan dit besigtig.”

Lunderstedt sê die hotel is in die oorlog deur die burgers as ’n tydelike hospitaal en artillerie-uitkykpunt gebruik, en later deur die Britte onder leiding van lord Methuen oorgeneem en as hoofkwartier gebruik.

“Dit was in dié veldslag waar genl. Koos de la Rey en sy seun Adaan (Adriaan) deur skrapnel gewond is en (Adaan) ’n dag later in Jacobsdal aan sy wonde dood is.

“Methuen en sy magte het reeds veldslae gevoer by Belmont, Graspan/Rooilaagte, en al langs die spoorlyn na Kimberley, wat onder beleg was.

“Ná die eerste veldslae het De la Rey met sy gekombineerde magte van die Vrystaat en Transvaal vir die eerste keer loopgrawe gebruik om die Britte te verras.

“Dit is tot so ver as 130 m voor die rivier gegrawe. Die Lichtenburg-kommando, waarvan 18 lede gesterf het, het die Britse magte die hele dag vasgekeer.”

Minstens 76 Britse soldate is op dié dag en nog dae later aan hul wonde dood. Tussen 50 en 73 burgers het op die dag gesneuwel.

Dit is weens al dié sterftes dat Modderrivier as die vyfde grootste veldslag in die Anglo-Boereoorlog beskou word.

Meer oor:  Slag Van Modderrivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.