Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klippe reën in betoging by Hekpoort
Die polisie hou die situasie dop. Op die agtergrond brand die bakkie wat in die slag gebly het. Foto: Verskaf

Motoriste het Dinsdag hewig onder ontevrede betogers se woede en klippe op die R563 en R560 in die Hekpoort-omgewing in Gauteng deurgeloop. ’n Vragmotor en ’n bakkie is ook aan die brand gesteek.

Benewens die skade wat motoriste gely het, is daar ook groot skade aan die infrastruktuur, met gate wat in die pad gekap en bande wat gebrand is.

Volgens verskeie bronne handel die ontevredenheid oor behuising wat die Mogale City-munisipaliteit aan inwoners beloof het.

Dr. Dirk Lourens, ’n inwoner, sê werkers in die omgewing is al jare ontevrede oor behuising wat aan hulle beloof word, maar wat nie nagekom word nie.

“Dit kom al omtrent 20 jaar aan wat hulle elke keer belowe word en dan koop die munisipaliteit grond.

Die vragmotor wat Dinsdag in die Hekpoort-omgewing in Gauteng aan die brand gesteek is. ’n Bakkie is ook aan die brand gesteek. Foto: Verskaf

“Die munisipaliteit het nou al ’n klomp grond gekoop waarop hierdie mense hulle kan vestig.

“Beloftes word gemaak en dan word dit nie nagekom nie en dan verdwyn die politici.”

Hy sê talle van die oorspronklike begunstigdes van die huisvesting is reeds dood of weg uit die omgewing.

Dinsdag is ook gate in die teer gekap en die veld is aan die brand gesteek, sê hy.

Die vlamme word geblus. Foto: Verskaf

Adrian Amod, die Mogale City-munisipaliteit se mediaskakelbeampte, kon nie onmiddellik op Netwerk24 se navraag reageer nie. Hy was nie bewus van die protesaksie nie en moes eers meer inligting bekom.

“Ek weet daar was ’n ruk gelede protes by Hekpoort, ek dink dit was oor kwessies wat met dienslewering en behuising verband hou, maar ek moet dit eers bevestig,” het hy gesê.

Motoriste het Dinsdag hewig onder ontevrede betogers se woede en klippe op die R563 en R560 in die Hekpoort-omgewing in Gauteng deurgeloop. Foto: Verskaf

Volgens kapt. Kay Makhubele het die protesoptrede Dinsdag in die vroeë oggendure begin.

“Gemeenskapslede het die R563 en R560 versper en ’n vragmotor op die R653 aan die brand gesteek.”

Makhubele het bevestig ’n bakkie is ook aan die brand gesteek.

Minstens vyf verdagtes is vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Die polisie het Dinsdag nog lede na die gebied ontplooi om alternatiewe roetes vir motoriste aan te dui, die paaie weer oop te maak en die situasie dop te hou.

Deon Greyling, voorsitter van die Hartebeesfontein-brandbeskermingsvereniging, sê daar is geweldig gesukkel om die paaie op te ruim.

Die R563 en R560 was onbegaanbaar. Dit is onder meer met takke en klippe versper. Bande is ook gebrand. Motoriste is aangeraai om ander roetes te gebruik. Foto: Verskaf

Hoewel voertuie met klippe bestook is, is hy nie bewus van enige beserings nie.

“Maar hier is geweldig baie skade aan die infrastruktuur.

“Slote is oor die teerpad gegrawe, brandende bande het die pad beskadig en brûe is ook verniel.”

Hy raam die skade op etlike honderdduisende rande.

Hy sê die protes het reeds einde verlede week begin, maar het eers net sporadies voorgekom, totdat dit nou opgevlam het.

“So ’n paar maande gelede het ons dieselfde probleem gehad. Dit lyk my daar is nou weer beloftes gemaak wat nie nagekom is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.