Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Koben kuier by familie in Pretoria

Koben Hofmeyr (16) van Louis Trichardt kon Saterdag vir die eerste keer in weke by familie in Pretoria gaan kuier. Hy herstel tans van ’n nekbesering wat hy in ’n skolerugbywedstryd opgedoen het.

Die sketse wat Koben Hofmeyr (16) geteken het. Foto: Annelize Hofmeyr

Annelize Hofmeyr, sy ma, sê hy is vanaf die Mediclinic Muelmed, waar hy tans rehabilitasie ondergaan, na familie in Pretoria vervoer vir ’n dag se kuier.

Van die hoogtepunte vir hom was om met sy familie in Pretoria se bokserhond, Tyson, te speel.

Verlede naweek het vriende en familie by hom gaan kuier in die rehabilitasiesentrum en hy is toe met braaivleis bederf.

Annelize sê haar seun maak goeie vordering en het verlede week selfs al weer begin om te teken. Hy het sketse van ’n renoster en ’n koedoe gemaak en ook sy naam geskryf.

Louis Cilliers, hoof van die Hoërskool Louis Trichardt, het Koben verlede week in die rehabilitasiesentrum besoek.

Koben het reeds gevoel in sy linkerhand en deels in sy regterhand terug nadat hy op Saterdag 19 Mei sy nek beseer het.

Hy was kaptein van die Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan toe hulle teen die Hoërskool Warmbad op Bela-Bela gespeel het.

Hy het sy C4- en C5-nekwerwels beseer en sy C6-nekwerwel is ontwrig.

Koben het kort ná die besering geen gevoel van sy bors af ondertoe gehad nie. Hy het twee operasies in die Life Groenkloof-hospitaal ondergaan.

Koben Hofmeyr (16) by Louis Cilliers, hoof van die Hoerskool Louis Trichardt. Foto: Verskaf
Koben Hofmeyr (16) geniet braaivleis in die rehabilitasiesentrum in Pretoria waar hy ná 'n nekbesering aansterk. Foto: Verskaf

Die operasies was suksesvol, maar hy is egter steeds in ’n rolstoel.

Hy kry onder meer intense fisioterapie om sy spiere sterker te maak.

“Volgens die span medici wat na hom omsien, sal hy minstens 12 weke rehabilitasie moet ondergaan,” sê sy ma.

Trompie Hofmeyr, sy pa, sê sy seun se herstel ná die nekbesering is niks minder as ’n wonderwerk nie.

Koben en sy familie is vol hoop dat hy ten volle sal herstel en weer sal kan loop.

Meer oor:  Koben Hofmeyr  |  Louis Trichardt  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.