Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kobus is terug op die lug

Kobus Wiese is Maandagaand terug op SuperSport se program SuperRugby.

Kobus Wiese

Hy sal minstens twee keer ’n maand weer die ankeraanbieder van dié program wees wat ook op kykNET uitgesaai word.

Dié voormalige Springbokslot en Johnny Davids, met wie hy ’n goeie werkverhouding het, sal vorentoe om die beurt die ankeraanbieders van die program wees.

Wiese het die program laas in 2019 aangebied. Vroeër vanjaar is hy sonder enige verduideliking gevra om die program nie meer te anker nie.

Sy afwesigheid op SuperRugby het ’n vurige debat onder die hutswoord #waariskobus op sosiale media ontketen. Verskeie kykers, rugbyondersteuners en van sy volgelinge op Twitter het beweer MultiChoice is besig om van Wiese ontslae te raak.

Rugbykykers wou antwoorde hê oor waarom SuperSport hom slegs as ’n kommentator tydens wedstryde gebruik en nie meer as aanbieder nie.

Geen amptelike redes is nog daarvoor gegee nie.

Soos destyds het Clinton van der Berg, woordvoerder van SuperSport, ook die afgelope week gesê: “Kobus is steeds aan boord.”

Hy het gesê hulle sal voortaan hul “talent” in die program afwissel.

Rapport verneem egter SuperSport was ná die bohaai op sosiale media onder yslike druk om Wiese weer te betrek.

Sekere topamptenare het glo gevrees DStv kan ’n klomp intekenare verloor as Wiese nie gou weer deel van die program is nie.

“Syfers het gewys dat SuperRugby, grootliks danksy Kobus se bydrae die afgelope 20 jaar, die gewildste program op SuperSport is,” het ’n ingeligte gesê. “Nieteenstaande die gewildheid van SuperRugby was daar in ’n stadium vanjaar selfs sprake dat hulle nie meer SuperRugby wou aanbied nie.

“KykNET het glo ’n sportprogram met die hooffokus op rugby verkies.”

Eindelik het hulle verlede Vrydag, nadat SuperRugby weens Covid-19 lank nie aangebied is nie, op kort kennisgewing laat weet die program word hervat.

Die oud-Bok-vleuel Breyton Paulse was verlede Maandag die ankeraanbieder, maar hy sal vorentoe eerder weer as gas verskyn.

Volgens drie ingeligtes met wie Rapport gepraat het, sou Wiese tydens die inperking met Gideon Khobane, uitvoerende hoof van SuperSport, oor sy betrokkenheid by SuperRugby praat. SuperSport sal Wiese steeds as kommentator tydens rugbywedstryde gebruik.

Rapport se pogings om Wiese gister vir kommentaar te bereik was vergeefs.

Meer oor:  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.