Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Koeng foe-kenner (19) red gesin van vermeende kapers

* Hierdie berig is intussen aangepas nadat dit gepubliseer is om kommentaar van die polisie by te werk.

Hy dra ’n nr. 13-skoen, kan 200 kg met sy bene opstoot, ken koeng foe en het sewe maande se intensiewe opleiding by die Shaolin-tempel in China deurgemaak.

Dit het die vermeende kapers egter nie besef toe hulle Dinsdagmiddag op die motor van die Van Niekerk-gesin van Eversdal in Durbanville, in die noordelike voorstede naby die Kaapstadse internasionale lughawe, toegeslaan het nie.

Ian van Niekerk het sy gesin met net een skop gered.

Lindy van Niekerk sê hulle was op pad lughawe toe om haar oudste seun, Ian (19), af te laai, want hy gaan vir ’n paar maande in Miami in die deelstaat Florida werk. Haar man het bestuur en sy was in die voorste passasiersitplek. Ian was agter in die motor saam met sy broer Charl.

Hulle het by die Borcherds Quarry-afrit van die N2 by ’n verkeerslig gestop.

“Ons moes toe daar by die rooi verkeerslig stop, toe kom daar drie mans.”

Alles het daarna vinnig gebeur, sê sy.

“Die mans het die venster by die agtersitplek, waar Ian gesit het, heeltemal stukkend gebreek.

“En ek sien toe hierdie man se vreeslike wrede gesig. Ek weet nie wat sy planne was nie, maar toe probeer hy om in die voertuig te klim.”

Die aanvaller kom toe egter te staan teen ’n koeng foe-kenner se nr. 13-skoen.

Van Niekerk sê Ian se koeng foe-instinkte het ingetree, en met een groot skop het hy die man wat by die venster probeer inklim het, deur die lug laat trek.

“Hy het hom in die gesig geskop dat hy deur die lug gevlieg en geval het.”

Lindy sê Ian het met veiligheidsgordel en al die man by die venster uitgeskop.

Die Van Niekerk-gesin het ’n foto van hoe hul motor gelyk het, op sosiale media gedeel. Foto: Facebook

Sy sê die verdagtes het ná die aanval opgestaan en weggehardloop.

Ian het ’n sny op sy gesig opgedoen.

Ian, wat omtrent 1,93 m is en 94 kg weeg, het vir sewe maande ná matriek China toe gereis waar hy intensiewe opleiding in die gevegskuns ontvang het.

Ian het in gr. 9 besluit om ’n gesonder leefstyl te handhaaf omdat hy oorgewig was en koeng foe gekies omdat hy nog altyd die akteur Bruce Lee bewonder het.

Die foto wat Ian van Niekerk se ma, Lindy, op Facebook geplaas het ná die aanval. Foto: Facebook

“Ian was verlede week op ’n leierskapkursus. Hy is hoeka Miami toe om ’n jong oorgewig seun, wie se familie al moed opgegee het, te gaan help as lewensafrigter.”

Van Niekerk sê dit was vir hulle skokkend om te hoor dat drie ander voertuie voor hulle reeds dieselfde dag geteiken is.

“Wat vir my skokkend was, is toe ons by die lughawe kom en dit by die naaste polisiekantoor aanmeld, toe is dit al die vierde voorval daardie dag wat daar gebeur het.”

Van Niekerk sê sy verstaan nie hoekom daar nie iets gedoen word of hoekom die afrit nie liewers toegemaak word nie.

“Dit is maar gevaarlik. Ons moet maar op ons hoede wees. Ek sal beslis nie weer daai afrit lughawe toe neem nie.”

Ian het ná die voorval sy vlug na Miami gehaal.

Die Van Niekerk-gesin het die voorval by die Ravensmead-polisiekantoor aangemeld, met ’n saaknommer wat aan Netwerk24 verskaf is.

Die Wes-Kaapse polisie het Woensdagmiddag bevestig dat ‘n saak van kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek word. Die dossier is van die polisiekantoor by die Kaapstad Internasionale Lughawe tot Nyanga (waar die voorval plaasgevind het) oorgeplaas.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê as gevolg van talle soortgelyke voorvalle het die polisie onderneem om die omgewing van die lughawe, N2 en Borcherds Quarryweg te patrolleer en een staande polisievoertuig in spitstyd by die afrit na Nyanga te hou.

Meer oor:  Reddingspoging  |  Misdaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.