Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Koester ’n fees van lente in die dal van rose

Rosendal. – ’n Lentefees word van 2 tot 4 September in die dorp aangebied.

Chris van Niekerk en André Schwartz is benewens heerlike kos, ’n veiling, tradisionele optredes en koswerksessies op die program. Boonop kan feesgangers die inwoners se huise besoek en sien hoe die mense hier woon en werk.

Met minder as 130 inwoners in die dorp is hierdie ’n klein en hegte gemeenskap met permanente én naweekinwoners.

Rosendal is langs geen hoofroete te vinde nie. Dis wel teen die Witteberge te vinde – dalk die enigste plek in die land wat nie die betekenis van straat-rommel ken nie.

Die dorp- en naweekmense is sinoniem; tog word talle jonger besoekers mettertyd permanente inwoners. Die joernalis Sybrandus Adema en sy vrou, Terry Westby-Nunn, rolprentmaker en skrywer, het in 2013 Kaapstad vir Rosendal verruil. ’n Gewone werksdag begin met stap of fietsry; die res van die dag word met streng selfdissipline aan werk gewy.

Vir Sybrandus is die plaaswerfgevoel sonder binnedorpse verval die groot trekpleister.

Die vryskutjoernalis Douglas
Mason van Toronto, Kanada, is sedert 2012 in Rosendal. Hy het uit pure nuuskierigheid die dorp ontdek en spontaan ’n verbintenis daarmee gevoel.

Celesté Louw, Netwerk24-nagredakteur, het in 2001 ’n huis hier gekoop om aanvanklik as naweekhuis ingerig te word, maar in 2014 word dit haar permanente adres. Soms mis sy die teenwoordigheid van haar nuuskollegas, maar die stilte verruil sy vir niks.

Vir Hanli Deysel is ’n rekenaar, ’n goeie skeut kreatiwiteit en toegang tot stabiele internet onontbeerlik vir haar werk as tipograaf en ontwerper van boekomslae. Met ’n uitsig oor ’n perskeboord kan sy met ’n klik of twee haar materiaal oor die wêreld heen stuur.

Duncan Cramer, IT-projek-bestuurder en rekenaarstelsel-argitek, wou bewys ’n mens kan op die platteland werk en só van die stadslewe se misdaad, taxi’s en ongeduld ontsnap. Die sukses van sy stresvrye bestaan is hier sterk van die internet afhanklik. En wanneer hy nie die lewe van kliënte op plaaslike en wêreldwye vlak vergemaklik nie, kan hy in die dorp se stofstrate op sy motorfiets rondrits.

Rosendal was reeds bekend vir sy kunstenaars soos Michèle Nigrini, Willem Pretorius en Dahla Hulme, toe die Bloemfonteinse kunstenaarspaar Kobus en Joe Kotze in 2007 besluit het om hier te belê. Aanvanklik is hul huis as ’n gastehuis ingerig, maar sedert 2013 is hulle permanente inwoners.

’n Jaar gelede het ’n groep kundiges van Gauteng tot Switserland hul hulpbronne en geesdrif saamgespan en ’n organiese permakultuurboerdery op die plaas Waaipoort, wat eens aan die joernalis Max du Preez behoort het, begin. Net ’n klipgooi van die dorp voorsien dié selfonderhoudende plaas in al John en Yvette Mulder, Caroline Dent, Thomas Linders en Michèle Schiess se basiese behoeftes. Niemand verdien ’n salaris nie, die werkslas word verdeel en die grootste gevaar is koeie wat deur die drade breek op soek na iets om aan te kou.

’n Mens wonder of ander Rosendalse naweekmense soos Rob en Glynis Steer, wat as Engelstaliges tuis voel in die plaaslike NG kerk, of die kunstenaar en animasierolprentmaker Diek Grobler, wat die dorp as onpretensieus ervaar, nie ook later hul stadskoene permanent sal uitskop nie. Of die argitek
Daniel van der Merwe wat al twee dekades gelede danksy
Rosendal se uniekheid en wonderlike kreatiewe gemeenskap ’n dorpshuis hier gekoop het.

  • Intussen geniet die naweekhuiseienaars Willem de Klerk en Carla Norval hul wegbreekgeleenthede na die dorpie, veral danksy die vryheid wat dit hul kinders bied. Kry meer inligting oor die Lentefees op die webblad www.rosendalinfo.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.