SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
Koffiefontein: Boer het glo al in Desember bure gedreig

Slegs ’n paar uur voordat boere van Koffiefontein in die Vrystaat hof toe sou gaan om ’n beskermingsbevel teen Coenraad Badenhorst te bekom, het hy twee mense, onder wie ’n polisiebeampte, doodgeskiet.

Paul Nel

’n Tweede polisiebeampte is ook in die skietery gewond en veg om sy lewe in ’n hospitaal in Kimberley in die Noord-Kaap, sowat 100 km van Koffiefontein af.

Badenhorst is noodlottig in ’n skietery met polisiebeamptes – wat as ’n “oorlog” beskryf is – gewond en op pad na die hospitaal dood.

Die voorval het skokgolwe deur dié Vrystaatse gemeenskap gestuur.

Badenhorst (38) het glo al in Desember gedreig om Paul Nel (66), ’n wild- en skaapboer, en ander boere dood te skiet.

Donderdagaand omstreeks 23:00 het hy Nel op die buurplaas Dassieskop, sowat 11 km buite Koffiefontein, in die kop geskiet.

Nel en sy vrou en hul jong kind bly in Stilbaai en hy was elke drie weke op die plaas.

Badenhorst het glo ’n pistool en ’n jaggeweer met ’n teleskoop en nagsigtoerusting in die skietery gebruik. Nel het glo in ’n stoel op die stoep gesit toe hy geskiet is.

Konst. Vuyani March
Konst. Vuyani March (27) Foto: Facebook

Konst. Vuyani March (27) is ook in die kop geskiet toe die polisie later opdaag. Hy is op die toneel dood, terwyl sers. George Calvert (41) in die gesig gewond is en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is.

Badenhorst is noodlottig gewond in die skietery wat tussen hom en die polisie uitgebreek het en het onderweg na die hospitaal in Bloemfontein aan sy wonde beswyk.

Gert Smith, ’n boer wat Donderdagaand een van die eerste mense op die toneel was, sê Badenhorst het ander boere al in Desember begin dreig.

“Coen het my al in Desember vertel hoe hy oom Paul en ander boere wil doodskiet. Volgens hom skuld oom Paul hom geld, wat ek nie glo nie. Daar was ook ’n geskil oor kanaalwater,” sê hy.

“Ek het die polisie oor die dreigemente ingelig. Hulle was bewus daarvan, want oom Paul en die ander boere was in die proses om ’n beskermingsbevel teen Coen te verkry.”

Ao. Luré Groenewald het die dreigemente ondersoek en sou glo Vrydag saam met die boere hof toe gaan om ’n beskermingsbevel teen Badenhorst te verkry.

Smith sê hy het Donderdagaand ’n boodskap gekry van ’n verdagte bakkie op Nel se werf. Hy het ondersoek gaan instel en gesien dit is Badenhorst se bakkie.

Coen Badenhorst
Coen Badenhorst (38)

Hy het Groenewald gebel.

“Groenewald het met oom Paul oor die foon gepraat, maar nadat sy afgelui het, het sy hom nie weer in die hande gekry nie.”

Groenwald het versterkings ingeroep en die beamptes was binne ’n kwartier op die toneel.

“Ons het by die werf ingegaan na die huis en het om die huis gestap,” vertel Smith.

“Ek het waterskoene teen die hoek van die huis gesien en toe weet ek dadelik daar is moeilikheid.

“Ons het omgestap na die stoep toe. Oom Paul het in die stoel gesit met ’n wond aan sy kop. Hy was klaar doodgeskiet.”

Hulle is hierna weg na ’n buurplaas om seker te maak Petro, Nel se gewese vrou, is veilig. Ander boere, wat glo ook deur Badenhorst gedreig is, is ook gewaarsku.

Volgens Smith het hulle daarna teruggekom na Nel se plaas toe. Hulle het op ’n teerpad naby die plaas gestaan toe die skote skielik begin klap het in wat “soos ’n oorlog” geklink het.

“Dit was ’n noue ontkoming. Ons almal het dadelik weggery en skuiling gesoek, want die koeëls het verby ons gevlieg.”

Gert Smith
Gert Smith was Donderdagaand een van die eerste mense op die toneel waar Paul Nel en twee polisiebeamptes geskiet is. Foto: Mlungisi Louw
’n Forensiese ondersoeker op die plaaswerf van Paul Nel. Foto: Mlungisi Louw
Forensiese ondersoekers loop in die veld naby die toneel waar die skietery plaasgevind het.Foto: Mlungisi Louw
’n Beampte van die polisie se forensiese ondersoekers loop met bewysstukke wat op die moordtoneel versamel is.Foto: Mlungisi Louw
Coen Badenhorst se bakkie staan Vrydag nog waar hy dit die vorige aand gelos het. Foto: Mlungisi Louw

Volgens kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Badenhorst die polisie in die bosse met ’n jaggeweer met ’n teleskoop ingewag.

Verskeie eenhede van die polisie was Vrydag op Dassieskop se werf. Badenhorst se pistool en nagsigtoerusting is onder doringbome meer as 100 m van die plaashuis gevind.

Elders op die plaas, agter die huis, het Badenhorst se bakkie verlate gestaan met ’n kragopwekker agterop. Die voorste band was pap. Binne die kajuit was ’n jagbaadjie, verkyker en bierbottel.

Volgens ’n ingeligte kom dit voor asof Badenhorst eers die pistool leeggeskiet en toe die jaggeweer in sy voertuig gaan haal het.

Smith het Nel sowat nege maande lank geken.

“Oom Paul was ’n vriendelike oom. Ons het altyd lekker gesels. Hy was saggeaard en nie gewelddadig nie. Hy was ’n nice, ordentlike mens.”

’n Familielid van Calvert, wat nie geïdentifiseer wil wees nie, sê dié familie is erg geskok en getraumatiseer oor wat gebeur het.

Senior Vrystaatse polisiebeamptes het die Koffiefontein-polisiekantoor Vrydag besoek om simpatie met die lede te betuig.

Meer oor:  Paul Nel  |  Coenraad Badenhorst  |  Koffiefontein  |  Beskermingsbevel  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.