Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kollegas bid vergeefs: ‘Bring ons brigadier terug’
Brig. Dick de Waal in die getuiebank in die opspraakwekkende Griekwastad-verhoor. Foto: Emile Hendricks

“Bring back our brigadier, óúr brigadier. Gee hom krag, want ons kan nie meer nie. Verlaag sy bloeddruk, sy koors, sy hartklop. Laat Covid-19 uit hom wyk.”

Só het kollegas van brig. Dick de Waal, bevelvoerder van die Noord-Kaapse georganiseerde-misdaadeenheid, Donderdag voor die Mediclinic Gariep gebid dat hy Covid-19 oorleef.

Sy vrou, genl.maj. Henriëtte de Waal, waarnemende Noord-Kaapse polisiekommissaris, het in uniform saam gebid.

De Waal is op 24 April in die hospitaal opgeneem. Hy is aanvanklik in ’n spesiale saal behandel voordat hy verlede Vrydag na die waakeenheid oorgeplaas is.

LEES OOK: Covid-19 eis brig. De Waal van Griekwastad-faam

Sy kollegas het in die taal van hul hart in Engels, in Afrikaans, in Tswana vir God, die Heilige Gees, en Modimo gesmeek dat hul bevelvoerder en kollega se lewe gespaar word.

Hy het meer as twee weke om sy lewe geveg ná ’n leeftyd waarin hy vir geregtigheid geveg het.

Sy kollegas het in ’n kring op ’n oop stuk veld langs die parkeerterrein van die hospitaal gebid, sommige met die hande omhoog. Die maskers oor hul neus kon skaars die trane verbloem waar hulle ’n meter of meer uitmekaar tussen bome in herfskleed gestaan het.

Niemand het omgegee dat die son op hul gesig neerbak terwyl hulle opgekyk het nie.

Hul gebede en gedagtes was slegs toegespits op die stil, wit, vierkantige hospitaalgebou agter hulle. Die atmosfeer só tasbaar dat toe ’n vreemdeling nader kom om saam te bid, ook hy sy hande gelig het.

“Ons het vir U. Ons kan ons net tot U wend. Ons vra, wees met die brigadier, die generaal, sy vrou. Gee die generaal krag in hierdie tyd. Spaar sy lewe en almal in die saal saam met hom. Hou U hand oor hom, oor almal daar in die saal om hom.

“Gee ons krag, want ons weet nie meer waarheen om te gaan nie. Net na U. U is ons enigste redding. U hou u hand oor ons brigadier se lewe. Ons vra U, want ons kan nie anders om net vir U te smeek nie. Bring hom terug. Bring ons brigadier terug; laat hy by hierdie hospitaal uitloop.

“Ondersteun die dokters en verpleërs, wat lang, meedoënlose ure op hul voete werk, wat moeg is, wat moedeloos is. Gee hulle die krag om oor die pasiënte te waak, oor almal wat daar binne lê.

“Hou u hand oor hulle, oor ons, want ons kan nie self meer dit doen nie.”

En toe het die polisielede verdaag. Om op hul poste te wees om oor ander te waak.

• Kemp het die biddiens as ’n vriendin van De Waal bygewoon en haar indrukke kort daarna neergeskryf. Hy is Vrydagmiddag dood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.