Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kolonel het haarself vermoedelik geskiet

Kol. Christelle Stemmet (47) het vermoedelik eers haar vuurwapen getoets om te kyk of dit werk voordat sy haarself geskiet het.

’n Bron met kennis van die ondersoek na Stemmet se dood, het Maandag gesê speurders het ’n vuurwapen, twee koeëldoppies en een koeël in Stemmet se West Beach-huis in Table View gevind.

Kol. Christelle Stemmet en haar vriend, Leon Dietrich. Stemmet het Sondagaand vermoedelik haarself om die lewe gebring. Foto: Facebook/Leon Dietrich

Stemmet se vriend, Leon Dietrich, en haar tuinier het Sondagaand kort voor 20:00 op haar lyk in haar gastekamer afgekom. Hulle het glo eers ’n badkamer- en toe die gastekamerdeur afgeskop voordat hulle haar lyk aangetref het.

Stemmet is aan die Valke in die Wes-Kaap se teenkorrupsie-eenheid verbonde.

Kol. Christelle Stemmet se lyk is Sondagaand in haar huis in West Beach, Table View, aangetref. Sy het haarself vermoedelik om die lewe gebring. Foto: Google Maps

Die bron sê haar tuinier, wat op die perseel woon, het ’n skoot hoor afgaan, waarna hy by die huis in is. Dietrich was toe glo reeds besig om die nooddienste te bel. Die mans het volgens die bron albei nog ’n skoot hoor afgaan en het toe die gastekamerdeur, wat gesluit was, oopgeskop.

Polisiebronne wat Sondagaand op die toneel was, sê speurders van die provinsiale kantoor is nie toegelaat om die toneel oor te neem nie. Die Table View-polisie het glo aangedui dat hulle self die dood sal ondersoek.

Die bronne sê Dietrich het met hul aankoms op die toneel reeds in ’n ambulans gesit. Hy het glo Sondagaand ’n ineenstorting gehad en is na die Blaauwberg Netcare-hospitaal geneem.

’n Ander bron sê die polisie het die tuinier en Dietrich se hande albei vir buskruit getoets.

Lt.kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder in die Wes-Kaap, het Stemmet se dood reeds Sondagaand bevestig. Hy het Maandag gesê ’n voorlopige ondersoek het dit uitgeskakel dat haar dood enigsins met die ondersoeke verband hou waaraan sy gewerk het.

“Die motief is egter deel van die ondersoek wat deur speurders van die plaaslike polisiekantoor gelei word.

“ ’n Geregtelike dossier is geopen om die omstandighede waarin ’n toegewyde en ervare polisiebeampte gesterf het te ondersoek.”    

Meer oor:  Table View  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.