SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Kolonkanker by oud-Springbok gediagnoseer

Kolonkanker is sowat twee maande gelede by die voormalige Springbok-stut Ockie Oosthuizen (64) gediagnoseer.

Oosthuizen, deesdae ’n sakeman en wynboer wat in Kaapstad woon, het dit Donderdag ná ’n doktersbesoek aan Netwerk24 bevestig.

Ockie Oosthuizen saam met sy geliefdes: Links is sy dogter, Karin Badenhorst, kleinseun, Rudi Badenhorst, sy ander dogter, Mirinda, sy vrou, Susan, en sy seun, Ockie jr. Foto: Verskaf

“Ek het vir ’n ondersoek gegaan nadat ek ’n ongemaklike gevoel in my dy gekry het. Daarna het ek diarree begin kry. Ek kon voel dat iets nie reg is nie en ek het verskriklik sleg gevoel. Ek het ook bloedarmoede gehad.”

Oosthuizen sê die dokters het bloeding aan sy dikderm gevind. Toe het die maagpyn begin.

Die dokters wou hom twee keer opereer om te bepaal of die kanker versprei het.

Hy kan nie narkose kry nie omdat nierversaking twee jaar gelede by hom gediagnoseer is. Die dokters kan dus nie opereer nie.

“Ek kan nie onder narkose gaan nie omdat dit die hart in spasma sal laat gaan. ’n Mens kan ook nie chemoterapie en bestraling kry nie, want dit is skadelik vir die niere. Die dokters moet so fyn trap om die ding te hanteer sodat dit nie my niere beskadig nie,” sê Oosthuizen.

Die onkoloog sal binnekort vir hom sê wat die volgende stap vir sy behandeling sal wees.

Oosthuizen sê hy is op ’n streng dieet en dit help om hom beter te laat voel. Hy eet hoender en vis, sekere vars vrugte en groente, en geen suiwelprodukte nie.

“Dit was so moeilik om vleis prys te gee. Ek was verskriklik lief vir vleis. As Suid-Afrikaners is ons lief vir braaivleis, biltong, lewer en afval. Aanvanklik kon ek nie daarsonder nie, maar nou is ek al gewoond daaraan. Gelukkig kyk my vrou, Susan, na daardie deel.”

Mense met dié soort kanker moet liefs ook wegbly van alkohol en tabak. Hy moes ook sy geliefde wyn prysgee om gesond te leef.

Hy sê die regte dieet help hom baie. Hy benadruk ook hoe belangrik dit is om van ’n jong ouderdom af die regte leefstyl te handhaaf.

Swak eetgewoontes kan ’n mens duur te staan kom, sê hy.

Hy het mense gewaarsku om hulle jaarliks te laat toets, veral omdat die kanker se simptome nie so gou wys nie.

“’n Mens versien mos gereeld jou kar, so hoekom ook nie jou gesondheid nie. Dit is so vinnig om vir ’n toets te gaan. Dit vat so 30 minute.”

Ondanks die twee terugslae, bly hy positief.

“Dit help nie om negatief te wees nie. Ek kry goeie behandeling en ek is in goeie hande. My familie en vriende ondersteun my ook baie. Ek kan op hulle staatmaak. Dit beteken so baie vir my.”

Die simptome is:

* Bloed in die stoelgang of rektale bloeding.

* Pyn en ongemak op die maag wat nie verdwyn nie.

* Pyn en ongemak op die maag voor of nadat jy by die toilet was – veral indien dit elke keer gebeur.

* Die gevoel dat jy nog nie klaar is nadat jy by die toilet was nie.

* Onverwagte gewigsverlies.

* Moegheid en swakheid wat onverwant is aan aktiwiteit.

* Hardlywigheid, diarree of die tekstuur van jou stoelgang verander; en

* ’n Verandering in toiletgewoontes wat langer as ’n paar weke duur.

Meer oor:  Ockie Oosthuizen  |  Oud-Springbok  |  Kolonkanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.