Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kommer oor oud-Koevoet-lid se verdwyning

’n Oud-lid van die polisie se destydse Koevoet-eenheid, en tans ’n veiligheidswerker in Irak, is vermis sedert sy paadjie met dié van drie vermeende Suid-Afrikaanse swendelaars gekruis het.

Chris Barnard (54) se familie vrees die ergste.

Hy is nie terug Irak toe nie.

Die pamflet vir vermiste persone met Chris Barnard se besonderhede op. Foto:

Sy foon, voertuig, bankbesonderhede en sy swaer se gesteelde huisware is in drie verdagtes van Vanderbijlpark se besit gevind.

Een van hulle is ’n vrou wat die afgelope paar maande op Facebook met Barnard bevriend geraak het terwyl hy in Irak was.

Sy familie vermoed dat Barnard die slagoffer van ’n tipiese Delila-lokval was: ’n meisie wat op sosiale media met mans, wat ver van geliefdes werk en goed geld verdien, bevriend raak en hulle dan uit daardie geld bedrieg.

Chris Barnard, wat as vermis aangemeld is sedert hy ’n Facebook-vriendin ontmoet het. Foto:

Barnard werk vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy.

De Wet van Wyk, sy swaer, sê dit behels dat Barnard maande lank weg is en dan ’n paar weke verlof kry.

Barnard is enkellopend. As hy kom kuier, bly hy by Van Wyk-hulle.

“Hy het bitter min uitgawes en sy geld is syne,” sê Van Wyk.

Barnard het in Desember weer kom kuier en vertel van die meisie wat op Facebook met hom bevriend geraak het.

Die Van Wyks was op pad na Mosambiek vir vakansie.

Barnard het op 5 Desember gery om die meisie te gaan haal.

Die foto wat Chris Barnard van hom en die Facebook-vriendin aan familie gestuur het. Foto:

“Chris het nog vir ons ’n foto gestuur waar hulle twee saam kuier. Hulle sou by ons huis tuisgaan.

“Later het hy ’n boodskap gestuur van hoe hy die meisie in Pretoria bederf – alles op sy koste.

“Hy sou haar weer 6 of 7 Desember terugvat. Ons is toe Mosambiek in met beperkte selfoonsein,” vertel Van Wyk.

Toe kry hulle ’n WhatsApp-boodskap van Barnard se nommer af: sy suster moet vir hom vertroulike inligting van sy bankrekening stuur.

“En toe kry ons ’n boodskap dat my vrou ‘dringend’ R60 000 vir hom (Barnard) moet oorplaas,” sê Van Wyk.

Corné de Beer tydens hul hofverskyning.Foto: Verskaf

Hulle kon hom nie vanuit Mosambiek bel nie en het net WhatsApp-data gehad, maar “Chris” het vir dae boodskappe gestuur wat “glad nie sy styl is nie”.

“Op 16 Desember kry ons ’n boodskap dat hy dringend moet teruggaan na Irak. Dit opsigself is nie vreemd nie.

“Maar toe vra hy geld vir ’n vliegtuigkaartjie – wat vreemd is, want die veiligheidsmaatskappy betaal dit altyd. Ek antwoord weer dat ons nie internet vir banktransaksies het nie.

“En toe sê hy dat hy die Jeep wat hy opgebou het, sal verkoop vir die vliegkaartjiegeld.”

Die vreemdhede was net te veel en De Wet het ’n familielid gevra om na sy huis in Pretoria te gaan.

Dié het polisielede saamgeneem en laat weet alles is uit die kaste geruk en goed is weg.

Die Van Wyks het hul vakansie kortgeknip, vir Barnard as vermis by die Sinoville-polisiekantoor aangemeld en ’n klag van huisbraak en diefstal ingedien.

“Barnard” het intussen die ander familielid gekontak en gevra of dié “sy” Jeep wil koop.

Die familielid het gevra vir ’n video van die Jeep.

’n Skermgreep waar ’n onbekende man met Chris Barnard se foon ’n video van die vermiste man se Jeep neem, terwyl die vrou, vermoedelik die een wat vir Barnard op Facebook bevriend het, toekyk. Foto:

Die video, geneem by ’n vulstasie, is van Barnard se foon af gestuur.

Hierop het Van Wyk en die polisie kringtelevisiekamera-beeldmateriaal van dié vulstasie bekom.

Dit wys hoe die vrou wat vir Barnard op Facebook bevriend het, en ’n man uit die Jeep klim. Die man gebruik Barnard se foon om die video te neem.

Daar is geen teken van Barnard nie.

Die polisie het die Jeep by ’n huis in Vanderbijlpark gevind, sowel as die meeste van Van Wyk se huisraad.

Corné de Beer, Richardt “Jagter” Botha en Wayne van der Walt is op aanklagte van huisbraak en diefstal, motordiefstal en diefstal van geld uit Barnard se bankrekening in hegtenis geneem.

Hulle het die afgelope week in die hof verskyn en is steeds in aanhouding.

“Maar hulle wil niks oor Chris sê nie,” sê Van Wyk.

Oorsig

Chris Barnard se familie het op 7 Desember 2019 die laaste bevestigende kontak met hom gehad.

Die vermoede is dat die swendelaars daarna boodskappe van sy foon af gestuur het.

Hy het donkerblonde hare, bruin oë, ’n bokbaard en ’n groot tatoe op sy rug met sy dogtertjie se naam.

Mense met inligting kan sers. Ferreira by 071 675 7373 bel.

Meer oor:  Irak  |  Chris Barnard  |  Verdwyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.