Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kommer oor paaie in Vrystaat voor Paasnaweek

Groot kommer heers in die Vrystaat omdat talle hoofroetes – kort voor Paasnaweek – in ’n haglike toestand is en ’n gevaar vir padgebruikers inhou.

Buite Koffiefontein is die brug oor die Rietrivier volgens ’n inwoner, Hensie Strampe, ’n ongeluk wat wag om te gebeur.

Strampe sê die brug op die R48 is gebou om vragmotors wat tien ton weeg, te dra, maar deesdae ry honderde vragmotors met vragte mangaan daagliks oor die brug.

Dié vragmotors weeg saam met hul vragte ongeveer 60 ton, sê Strampe.

Die brug oor die Rietrivier buite Koffiefontein is net ná die Tweede Wêreldoorlog gebou en is lewensgevaarlik, sê padgebruikers.Foto: Verskaf

Dié enkelbaanbrug is net ná die Tweede Wêreldoorlog gebou en verbind Koffiefontein met Kimberley, De Aar en Bloemfontein.

Strampe sê dit is skrikwekkend om te sien hoe die hele brug vibreer wanneer ’n vragmotor daaroor ry.

“By die pilare waarop die brug rus, is daar al diep slaggate en die brug se struktuur is in onlangse betogings beskadig,” sê hy.

Die oppervlak op die brug is so sleg dat vragmotorbestuurders hul voertuie in eerste rat sit wanneer hulle daaroor ry.

“Ek ys as ek oor die brug ry,” sê Strampe.

Hy sê die toestand van die brug is al ses maande gelede aangemeld.

So lyk die brug buite Koffiefontein se oppervlak.

’n Inwoner van Christiana sê die pad na Hertzogville is so gevaarlik dat mense nie meer Bloemfontein toe wil ry nie en verkies om in Kimberley hul sake te gaan doen.

Die sakeman, wat anoniem wil bly, sê talle mense is al op die pad dood weens die verskriklike slaggate op die R708.

Hy sê daar word geen instandhouding gedoen nie en die pad “word net gelap”.

Die brug buite Koffiefontein het heelwat skade. Betogers het ook van die staalstruktuur in ’n betoging beskadig.Foto: Verskaf

Kimberley het ook nie soveel mediese spesialiste soos Bloemfontein nie en dit het al gebeur dat mense eers na Kimberley geneem is vir mediese sorg en hulle dan weer met ’n ompad na Bloemfontein geneem moet word. Dit word gedoen omdat ambulanse nie in die nag die pad tussen Christiana en Hertzogville wil ry nie, sê die man.

“Mense wat bande en voertuie herstel, plaas al hul advertensieborde langs die slaggate,” sê hy.

By Bothaville sê Jannie Bothma, ’n boer, hy en ander boere vul self gate in die pad op.

Die Goldfields-vervoermaatskappy het onlangs vyf ton se teer en fyn gruis gekoop om die slaggate op die R59 tussen Bothaville en Viljoenskroon op te vul.

Bothma sê van die gate is tot 25 cm diep en so groot soos ’n bakkie se buiteband.

’n Inwoner van Reitz, Christa Kriek, sê die R57, wat die hoofroete tussen Gauteng en Qwaqwa is, dra swaar verkeer en is lewensgevaarlik. Sy sê die pad is ’n paar jaar gelede opgeknap, maar daar val weer gate in en op party plekke is die slaggate baie diep en gevaarlik. Wanneer dit reën, staan die gate vol water en kan mense dit nie sien nie.

Die paaiedepartement gooi rooigrond in die gate, maar dit trap vinnig weer uit, sê Kriek. Die pad is ook ’n belangrike roete na Lesotho.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van paaie, polisie en vervoer, sê daar is in die huidige boekjaar begroot om Koffiefontein se brug, sowel as die R708 by Christiana, te herstel.

Sy sê ook daar word tans voor die Paasnaweek dringende herstelwerk aan die R57 gedoen.

Die pad tussen Christiana en Hertzogville is so gevaarlik dat inwoners van die distrik deesdae verkies om liefs Kimberley toe te ry, pleks van Bloemfontein toe.
Meer oor:  Vrystaat  |  Koffiefontein  |  Kimberley  |  Reitz  |  Paaie  |  Paasnaweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.