Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kommer oor proses in aanwys van Valke-hoof
Lt.genl. Khehla Sitole Foto: THEO JEPTHA

Kort ná pres. Jacob Zuma se aanstelling van die nuwe nasionale polisiehoof, is kommer oor die aanwysing van die nuwe heeltydse hoof van die Valke geopper.

Zak Mbhele, DA-LP, het Donderdag gesê hy gaan Fikile Mbalula, minister van polisie, vra om die kortlys van die kandidate vir die pos as Valke-hoof openbaar te maak.

As Mbalula dit teen 1 Desember nog nie gedoen het nie, sal die DA Francois Beukman, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, vra dat die minister dit aan die komitee beskikbaar stel.

Mbalula het vroeër gesê hy is in die proses om dié aanstelling te finaliseer.

Volgens Mbhele regverdig die gebrek aan ’n “deursigtige en onafhanklike proses” ernstige kommer dat die besluit weer agter toe deure geneem sal word, en volgens onbekende kriteria.

“Pres. Zuma se verrassende aanstelling Woensdag laat van die nuwe polisiehoof, lt.genl. Khehla John Sitole, wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, oudvoorsitter van die Afrika-Unie, van ’n blouligbrigade in haar ANC-veldtog voorsien het, is ’n voortsetting van sy betreurenswaardige rekord om ’n geskikte kandidaat aan te stel,” het Mbhele gesê.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en Corruption Watch het vroeër vanjaar ’n veldtog gelei waarin hulle gevra het vir ’n deursigtiger en inklusiewer proses in die aanstelling van die nasionale polisiekommissaris.

Die pos van die hoof van die Valke is vakant. Dié pos word gevul op aandrang van die minister van polisie, en soos dinge staan, word prosedurele deursigtigheid ook nie vir die pos vereis nie.

Gareth Newham, hoof van geregtigheid en geweldvoorkoming by die ISS, het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan deursigtigheid in die aanstelling van die nuwe polisiehoof.

“Terwyl ons die aanstelling van ’n ervare polisiebeampte verwelkom om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te lei, laat die feit dat ons nie die voordeel van ’n strawwe aanstellingsproses het nie, Suid-Afrikaners aan die genade van pres. Zuma oor, wat nie ’n goeie rekord het nie.”

Suid-Afrikaners sal volgens Newham weer deur ervaring uitvind of die nuwe polisiehoof die vereiste eienskappe het om te lei en te beskerm.

Die leierskapskrisis strek tot in die intelligensiegemeenskap. “Die pos van die hoof van die Valke is vakant. Dié pos word gevul op aandrang van die minister van polisie, en soos dinge staan, word prosedurele deursigtigheid ook nie vir die pos vereis nie.”

Corruption Watch het Sitole se aanstelling verwelkom, maar aangevoer dat ’n deursigtige werwingsproses wat op meriete gegrond is en openbare deelname insluit, die publiek en polisiebeamptes die geleentheid sou gegee het om beter ingelig te wees oor die vermoëns en eienskappe van die nuwe polisiehoof.

Die polisievakbond, Popcru, het gesê totdat die nuwe polisiehoof sy visie uitspel, sal dit nie duidelik wees of hy die regte persoon is om die polisie vorentoe te neem nie. Die vakbond glo egter dat die polisie dringend sy hele organisatoriese struktuur – wat opgeblase is en baie gedupliseerde poste bevat – moet hersien.

Meer oor:  Polisiehoof  |  Jacob Zuma  |  Fikile Mbalula  |  Poste  |  Valke  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.