Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
So sal koning Zwelithini onthou word

Die Zoeloekoning Goodwill Zwelithini is Vrydagoggend in die ouderdom van 72 dood nadat hy vir komplikasies weens diabetes in die hospitaal opgeneem is.

Hy sal veral onthou word vir die rol wat hy in die geweldgeteisterde KwaZulu-Natal met Suid-Afrika se oorgang tot die demokrasie gespeel het, skryf Gert van der Westhuizen.

Goodwill Zwelithini was sedert 1968 die koning van die Zoeloes. Foto: Argief

Die koningshuis het in 'n verklaring bevestig dat Zwelithini in die vroeë oggendure in die hospitaal dood is.

"Namens die koninklike familie bedank ons die nasie vir sy gebede en ondersteuning in hierdie moeilike tyd."

Pres. Cyril Ramaphosa het in 'n verklaring deur die presidensie hulde aan Zwelithini gebring.

"Sy majesteit sal onthou word as 'n geliefde, visioenêre monarg wat 'n belangrike bydrae tot die kulturele identiteit, nasionale eenheid en ekonomiese ontwikkeling van KwaZulu-Natal gelewer het, en sodoende ook tot die ontwikkeling van die hele land bygedra het.”

LEES OOK: Ramaphosa bring hulde aan koning Zwelithini

Ná ’n stillerige eerste dekade of wat as koning van die Zoeloes het Zwelithini in die vroeë 1990’s gereeld in die geweldgeteisterde KwaZulu-Natal in die politieke kollig beland.

Hy is meestal as speelbal tussen die ANC en die IVP gebruik en het dikwels met Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, gebots.

Zwelithini, wat ’n bewondering vir oudpres. Nelson Mandela gehad het, het in ’n stadium gekla dat hy byna ’n kwarteeu lank feitlik ’n gevangene van die IVP was voordat hy hom, volgens een bron, kort voor die verkiesing in 1994 uit die kloue van dié party en sy leier, die “premier van die Zoeloenasie”, bevry het.

Oudpres. Jacob Zuma, ’n Zoeloe-tradisionalis, het ’n groot rol gespeel om Zwelithini uit die IVP-dampkring te laat beweeg en hom op sy onafhanklikheid te laat aandring.

Geskille tussen Zwelithini, wat sedert 1968 die koning van die Zoeloes was, en Buthelezi het dikwels in die openbaar tot uitbarsting gekom hoewel albei ten gunste van meer outonomie vir die koninkryk van KwaZulu was.

Buthelezi, wie se party hom gereeld uit onderhandelings onttrek het en eers op die nippertjie ingestem het om aan 1994 se verkiesing deel te neem, het in ’n stadium gedreig dat hy nie sal toelaat dat die koning die Zoeloenasie in twee skeur en die monargie deur sy optrede in gevaar stel nie.

Dié voortslepende twis het in 1994 daartoe gelei dat die koningshuis bande met Buthelezi verbreek het.

De IVP het Zwelithini verder daarvan beskuldig dat hy die ANC se hand met sy optrede versterk. Die ANC het uiteraard heelwat politieke munt geslaan daaruit dat Zwelithini hom “bevry” het van die IVP omdat Buthelezi-hulle altyd die koning se steun voorgehou het as die rede waarom juis Inkatha die party is wat Zoeloes verteenwoordig.

Dié voortslepende twis het in 1994 daartoe gelei dat die koningshuis bande met Buthelezi verbreek het en daar was selfs sprake van internasionale bemiddeling om die verhouding te herstel.

Die verhouding tussen die koningshuis en die provinsiale IVP-beheerde regering was ná 1994 ook nie altyd baie gemoedelik nie.

Zwelithini en Buthelezi het later hul geskille bygelê.

Vriende? Koning Goodwill Zwelithini en Mangosuthu Buthelezi in 2019 in die Enyokeni- koninklike paleis in Nongoma in gesprek, terwyl Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, toekyk. Foto: Gallo Images

Zwelithini, bestempel as ’n vriendelike man wie se politieke vernuf en oordeelsvermoë volgens waarnemers egter bra bedenklik was, het hom soos die stryd tussen die IVP en ANC verhewig en al hoe meer bloed verspil is, wel gereeld in die openbaar teen geweld uitgespreek.

Die ANC het ná 1994 meer aandag aan tradisionele leiers én Zwelithini in KwaZulu-Natal begin skenk in ’n poging om ’n deurbraak onder die kiesers in die platteland te maak en te wys dat hy nie, soos Buthelezi beweer het, vyandiggesind teenoor tradisionele leiers was nie.

Die ANC se strategie was suksesvol en hy het eers die IVP se meerderheid in KwaZulu-Natal in 1999 drasties verminder voordat hy in 2004 die bewind oorgeneem het. Die ANC is sedertdien in beheer van KwaZulu-Natal.

Zwelithini het tog gereeld die nuus gehaal vir wat as sy uitspattige lewenstyl beskou is.

Teen 1999 met die tweede demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het Zwelithini se politieke invloed in elk geval al heelwat getaan en het hy – behalwe met die opening van die provinsiale parlement – nie juis meer enige noemenswaardige rol in die openbare lewe gespeel nie.

Mandela het Zwelithini wel besoek voordat hy as president uitgetree het.

Zwelithini het tog gereeld die nuus gehaal vir wat beskou is as sy uitspattige lewenstyl wat deur belastingbetalers gefinansier is. Gerugte wou dit hê dat hy die bes betaalde van alle tradisionele leiers was. Teen 1995 is byvoorbeeld berig dat vyf “paleise” ter waarde van R7 miljoen vir hom gebou is en hoewel sy geldkraan vanjaar effens toegedraai is, is R4 miljoen onder meer bewillig vir die opknap van die paleise.

Luidens berigte in 2014 het die koninklike huishouding jaarliks R54,2 miljoen van die regering gekry, maar die koning het in ’n stadium nie geld vir kruideniersware gehad nie.

Zwelithini en grondonteiening

Koning Goodwill Zwelithini in 2002. Foto: Gallo Images

Zwelithini het vier jaar later, toe die kwessie van onteiening sonder vergoeding een van die brandendste politieke kwessies in die land geword het, weer die nuus gehaal; nie altyd om die regte redes nie.

Dié Nguni-beesboer wat plaasmoorde al in die openbaar veroordeel het, het Zoeloes op ’n imbizo opgeroep om te baklei vir hul grond en was veral bekommerd oor die omstrede Ingonyama-trust wat grond van sowat 2,8 miljoen ha in KwaZulu-Natal administreer en waarvan hy die enigste begunstigde is. (Die trust is ook nie altyd om die regte redes in die nuus nie en sy raad weier byvoorbeeld steeds om korrektiewe maatreëls in te stel wat die ouditeur-generaal ná administratiewe wangedrag voorgestel het.)

Zwelithini is destyds wyd gekritiseer vir wat as etniese mobilisasie en kwalik bedekte geweldsdreigemente beskou is. Pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza het Zwelithini en ander tradisionele leiers egter agterna probeer paai deur te sê grond onder hul beheer sal nie onteien word nie.

Jerome Ngwenya, voorsitter van die Ingonyama-trust, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, koning Goodwill Zwelithini en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, toe hulle in 2018 vergader het.

Die IVP het Zwelithini se standpunt oor grond gesteun en het ook tot ’n vergadering tussen Zwelithini, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, prof. Danie Goosen van die FAK en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging gelei.

Dié afvaardiging is ook na die banket genooi waar Zwelithini se 70ste verjaarsdag gevier is, en Kriel het selfs ’n spreekbeurt op dié geleentheid gehad.

Luidens berigte het Kriel vroeër gesê sake van gemeenskaplike belang is op die vergadering bespreek. Grondonteiening was die belangrikste daarvan, maar kultuur, armoedeverligting en onderwys het ook onder die loep gekom.

Rapport het in ’n hoofartikel die wysheid van Zwelithini as ’n bondgenoot in die stryd teen grondonteiening bevraagteken.

Julius Malema, leier van die EFF, het die besoek destyds in ’n twiet as “interessant” bestempel.

Rapport het in ’n hoofartikel die wysheid van Zwelithini as ’n bondgenoot in die stryd teen grondonteiening bevraagteken omdat sy en AfriForum se oogmerke wesenlik van mekaar verskil.

“Talle kenners van die grondkwessie in Suid-Afrika voer aan dat Zwelithini se houvas op 2,8 miljoen hektaar grond deur die Ingonyama-trust een van die groot remskoene tot sinvolle grondhervorming in die land is. Hulle sê as die huidige bewoners van dié grond titelaktes kan kry, sal dit die patrone van grondeienaarskap drasties verander,” het die hoofartikel onder meer gelui.

Zwelithini het op sy beurt gesê grondonteiening is soortgelyk aan dit wat sy voorvaders te beurt geval het.

Hy het die ANC se planne om grond te onteien as die “tweede aanslag” bestempel. Die eerste aanslag was klaarblyklik die onteiening van Zoeloe-grond in die koloniale tydperk.

Koning Goodwill Zwelithini en FW de Klerk, destydse president van Suid-Afrika, in 1992. Links op die foto is Mangosuthu Buthelezi, destyds leier van die IVP. Foto: Gallo Images

Goodwill Zwelithini Mbongizozwa kaBhekuzulu was die agtste Zoeloekoning sedert Shaka in 1816 die septer as die eerste heerser van ’n verenigde Zoeloe-nasie begin swaai het.

Onder sy voorgangers tel van die bekendste name in die Suid-Afrikaanse geskiedenis soos Dingaan, Cetshwayo en Dinizulu. Dit is egter te betwyfel of Zwelithini eendag in die geskiedenis dieselfde statuur sal beklee.

Zwelithini is op 14 Julie 1948 gebore en was die seun van koning Cyprian Nyangayezizwe “Bhusa” Bhekuzulu en koningin Thomozile Jezangani Ndwande. Sy ma is dood toe hy baie jonk was en koningin Mpahleni, sy ouma, het hom grootgemaak. Zwelithini se pa, wat ook diabetes gehad het en ernstige longprobleme gehad het, is in 1968 op 44-jarige ouderdom dood.

Zwelithini het in 1992 met sy vyfde vrou, Nompumelelo Mchiza, getrou. Hy het in 2014 met sy sesde vrou, Zola Mafu, getroud en het glo 28 kinders. 

Bykomende bronne: Andre Reynolds (red.) Election ’99 South Africa: from Mandela to Mbeki (1999), Mail & Guardian A-Z of South African politics: The essential handbook, 1995 en 1999, en M.Z. Shamase: Zulu potentates: From the earliest to Zwelithini kaBhekezulu (1996).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.