
Katy Brink met die kospakkie wat sy van konst. Kwayo Louw ontvang het.

Antie Agnes Brink, wat ook ’n kos-pakkie ontvang het.
’n Polisiebeampte met ’n oop hart en hand vir mense wat sukkel, het uit sy eie sak kos vir vyf behoeftige gesinne in Kraaifontein gekoop en uitgedeel.
Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die 23-jarige konst. Kwayo Louw geloof vir sy barmhartige optrede.
Louw is verbonde aan die polisiekantoor in Kraaifontein en het deur ’n WhatsApp-groep, Kraailove, behoeftige gesinne geïdentifiseer. Hy het ook die groep gestig en mense van die gemeenskap daarby betrek.
Louw sê hy het die kospakkies aan bejaardes in die gebied gegee.
“Ek het besluit om te fokus op bejaardes wat alleen woon en nie sommer na die sopkombuise kan loop om ’n maaltyd te gaan haal nie.”
Hy het seker gemaak dat die kospakkies die ontvangers ’n paar weke kan hou.
Louw is ook by verskeie sopkombuise in gebiede soos Scottsdene, Wallacedene en Bloekombos betrokke.
“Ek geniet dit om ’n verskil te maak en mense te help wat regtig hulp nodig het,” sê hy.
Fritz het Louw vir sy optrede geloof.
“Dié optrede wys dat die rol van ’n polisiebeampte nie net die handhawing van die maatreëls behels nie, maar ook om vir die mees kwesbares in hul gemeenskappe om te gee en ’n rol in die hantering van die maatskaplik-ekonomiese uitdagings te speel.”
Fritz sê dit is veral nou belangrik dat almal in dié moeilike tye deernis met mekaar het.
“Omdat ons steeds op die vlak 4-inperking is, is dit moeilik om rond te beweeg en baie mense kan nie geld verdien om kos te koop nie.
“Ek wil ook die ander polisiebeamptes en die wetstoepassers loof wat in die voorste linie vir ons veg. Ons beamptes en wetstoepassers werk onder druk in die Covid-19-pandemie en probeer hul bes om almal veilig te hou en terselfdertyd ook veilig te bly.
“Net soos konst. Louw, is daar baie ander beamptes wat die ekstra myl stap om die behoeftiges in gemeenskappe te help,” sê hy.