Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Koos Bekker het ‘skon’ gekoop – en jy?

Deelnemers aan Borg ’n Woord leef hul spesiale verbintenis met sekere Afrikaanse woorde uit en koop of borg die woord. Een van die woordkopers is Koos Bekker, voorsitter en voorheen uitvoerende hoof van Naspers. Bekker het die woord “skon” vir sy ma gekoop omdat hy ’n besonderse assosiasie met skons en sy ma het.

Van die ander mense wat Afrikaanse woorde gekoop het, is ’n man wat die woord “heldin” vir sy vrou gekoop het na haar dapper stryd teen kanker. ’n Bejaarde man (88) van Bloemfontein het die woord “kafoefel” geborg. Sy spesiale verbintenis met die woord kom ná sy hartomleidingsoperasie toe die dokter hom gemaan het om dit rustig te vat en nie te veel te “kafoefel” (te vry) nie. Leon van Nierop het onlangs “pierewaaier” geborg omdat hy dikwels met pierewaaierkarakters te doen kry in die rolprente wat hy resenseer.

Dr Willem Botha by HemelBesem wat die beskermheer van Borg ’n Woord is. Foto: Verskaf

Dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), sê dit is juis oor die spesiale verbintenisse met woorde dat die Borg ’n Woord-projek van die WAT sy ontstaan in 2010 te danke het.

“Die doelwit van Borg ’n Woord is om Afrikaanssprekendes opnuut bewus te maak van die waarde en betekenis van woorde in elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het ’n besondere verbintenis met een of meer woorde. Dit is hierdie woorde wat mense borg of koop. Dít is waaroor dit gaan: ’n besonderse ervaring vir alle deelnemers wat ’n spesiale woord in hulle lewe hul eie maak en daardeur help verseker dat Afrikaans in sy volle omvang in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vasgevang word. Die WAT moet 70% van sy inkomste self genereer omdat slegs 30% van die inkomste van die staat kom,” het Botha gesê.

Borg ’n Woord se nuwe beskermheer is HemelBesem (Simon Witbooi). Sy slagspreuk is: “Slegs met woorde maak die lewe sin: Jy kan my woord neem daarvoor. Neem eienaarskap van jou taal en borg ’n woord.”

Vorige beskermhere was David Kramer in 2010, gevolg deur Charlene Truter-Lackay, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer en Karen Zoid. Elke deelnemer kry ’n sertifikaat met sy of haar naam en woord, asook gratis toegang tot die Aanlyn WAT en die kans om R25 000 in Sanlam se prystrekking te wen. Jy kan een woord of meer borg teen R100 elk of jy kan ’n woord koop teen R5 000, wat verseker dat niemand anders daardie woord mag koop of borg nie.

Daar is reeds meer as tienduisend woorde geborg of gekoop in die Borg ’n Woord-projek.

HemelBesem voel sterk oor Afrikaans: “Afrikaans groei nog. Borg ’n Woord is juis daar om daardie groei te stimuleer en te beskerm. As mense inkoop in hierdie konsep raak ons woordeskat(kis) net voller en die taal kry ’n nuwe inspuiting.” Hierop sê Botha: “Die mees persoonlike geskenk wat jy vir iemand kan gee, is ’n woord!”

“Aweh is ’n woord wat ek baie gebruik. Ek geniet ook allerhande woorde waar die klem op hulle klank lê. Dis seker maar die kletsrymer in my,” sê HemelBesem.

Interessante taalfeite is:

  • Tale sterf teen ’n tempo van ongeveer een elke 14 dae.
  • Daar word bereken dat die helfte van die wêreld se ongeveer 7 000 tale teen die einde van hierdie eeu uitgesterf sal wees.
  • Die Afrikaanse taal bestaan, soos Nederlands en Engels, uit ongeveer 1 miljoen woorde, maar dit is ’n benaderde syfer.
  • Daar is meningsverskille oor hoe groot elkeen van ons se woordeskat is, maar 20 000 woorde is min of meer die gemiddelde skatting vir ’n volwasse individu se aktiewe woordeskat.
  • Daar ontstaan steeds nuwe woorde in Afrikaans en nuwe woorde wat die WAT onlangs opgeneem het, is “app” (benewens “toep”), “beurtkrag”, “e-tol”, “hidrobreking”, “hommeltuig”, “hutsmerker” en “hekkie”.
  • Wenners van die afgelope jare se nuutskeppingskompetisie was “vonkelwater” (sparkling water), “praatkaart” (vir GPS), “wynpyn” (hangover), “kieriekorting” (afslag vir pensioentrekkers), en “weggenoot” (eksman of -vrou).

Daar is reeds meer as tienduisend woorde geborg of gekoop in die Borg ’n Woord-projek. Meer as een persoon kan dieselfde woord borg, maar elkeen kry ’n sertifikaat met sy of haar naam en die woord of woorde wat hy of sy geborg het. Jy borg ’n woord vir R100 en koop ’n woord vir R5 000. As jy ’n woord gekoop het, mag niemand anders daardie woord borg of koop nie. Elke deelnemer kwalifiseer vir die prystrekking waarin R25 000 van Sanlam gewen kan word.

  • Om ’n woord te koop of te borg, besoek www.wat.co.za en kliek op Borg ’n Woord.
Meer oor:  Wat  |  Koos Bekker  |  Leon Van ­Nierop  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.