Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Koud, maar beslis nie die koudste in 10 jaar

Die ysige koue wat Suid-Afrikaners tans laat bibber, is niks ongewoons nie en dit is ook nie die koudste winter in tien jaar nie, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Verskeie plasings op sosiale media wou gebruikers die afgelope paar dae laat glo dat poolwinde, wat die ysige koue na Suid-Afrika aanblaas, die koudste winter in tien tot 15 jaar teweeggebring het.

Dit is nie waar nie, sê Wayne Venter, meteoroloog by die Weerdiens.

“Die winterkoue wat ons nou beleef, is heeltemal normaal vir dié tyd van die jaar.”

Hy sê omdat die vorige twee winterseisoene warmer as gewoonlik was, is mense nou onder die verkeerde indruk dat die winter soveel kouer is.

Weens twee groot kouefronte wat kort ná mekaar van Antarktika af deur hoogdrukstelsels tot dieper die binneland aangeblaas is, voel dit dalk asof dié winter kouer is en langer duur.

Daar is darem goeie nuus. Hoewel dit vir die volgende paar dae nog soggens lekker koud gaan wees, begin die dae warmer raak.

Die winterkoue wat ons nou beleef, is heeltemal normaal vir dié tyd van die jaar.
Wayne Venter

Nog ’n kouefront sal die Wes-Kaap teen Dinsdag tref, maar dié front sal nie so sterk wees nie en hoofsaaklik reënbuie langs die kus tot by Gqeberha bring.

Venter sê ’n moontlike La Ninã-stelsel is ook deur die Australiese weerdiens bespeur, wat in die lente en vroegsomer nog goeie reëns vir die sentrale en oostelike gedeeltes van die land sal bring.

Dit is in dié stadium moeilik om ’n voorspelling vir die droogtegeteisterde dele van die Noord-Kaap, veral dorpe in die Boesmanland soos Loeriesfontein en Brandvlei, te maak omdat die gebiede laat somerreën kry.

Teen Desember sal ’n mens kan sien of daar dalk goeie nuus vir dié streek sal wees.

Venter sê die goeie reën- en sneeuneerslae in die Oos-Kaap, wat in die opvangsgebied van die Kougadam geval het, is goeie nuus.

“Dit het nog nie ’n invloed op die dam nie en daar sal nog baie neerslae moet wees, maar dit lyk al beter.”

Intussen het inwoners van die Noord-Kaap en die Vrystaat omtrent Vrydagoggend geklappertand.

In Welkom het die kwik by ’n vriesende -13°C gedaal.

Dit het die hele nag gevoel asof die wêreld in ys gebêre is.
Arno Alberts

Rouxville in die Suid-Vrystaat was kort op Welkom se hakke met -12°C.

In Koffiefontein het Coenie Cohn se plaasdam gevries. Hy het foto’s van die gedoente op sosiale media geplaas.

In Smithfield het die termometer ’n bitter koue -16°C aangedui.

In die Noord-Kaap het inwoners van Kimberley omtrent op hul tande gekners by -6°C, terwyl die temperature in Hopetown tot -9°C gedaal het.

Arno Alberts, ’n inwoner van Hopetown, het Vrydagoggend gesê hy het nie gevoel in sy hande of voete gehad nie. “Dit het die hele nag gevoel asof die wêreld in ys gebêre is.”

Ook in Upington was daar geen genade nie met die kwik wat hier tot -5°C gedaal het.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Weerdiens  |  Koue  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.