Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KPMG: Rugbybaas Roux steek glo geld weg, manipuleer
Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Denzil Maregele

Jurie Roux, Suid-Afrikaanse rugby se grootbaas, het volgens 'n voorlopige verslag deur die ouditfirma KPMG finansiëlebestuurstelsels aan die Universiteit Stellenbosch (US) “gemanipuleer”, besteding “weggesteek” en sowat R35 miljoen van die US se reserwes van die universiteitsraad “weerhou”.

Hy het na hierdie geld as “sparries” (vermoedelik kort vir spaargeld) verwys.

Roux se regsverteenwoordiger, Frikkie Erasmus, het by navraag gesê sy kliënt gaan nie kommentaar lewer nie omdat dit hom in die geding met die US kan benadeel. Die verslag bevat “ongetoetse, selektiewe bewerings” waarvan die korrektheid betwis word. “Hy ontken enige onregmatige of ongeoorloofde optrede.” (Lees meer . . .)

Peter Grant, voormalige WP-losskakel, Ernst Joubert, voormalige Saracens-losvoorspeler, Chean Roux, voormalige lid van Heyneke Meyer se Springbok-bestuurspan, en Hendré Marnitz, die Blou Bulle se nuwe Curriebeker-afrigter, het volgens KPMG ook voordeel uit dié “sparries” getrek.

Dít is van die bewerings vervat in die plofbare voorlopige verslag deur KPMG na beweerde ongerymdhede by die US se studentegeld-kantoor en waarby Roux, ’n voormalige senior direkteur: finansies op Stellenbosch, en Chris de Beer, ’n senior bestuurslid, betrek word. De Beer het die US se diens verlaat.

Die Danie Craven-stadion op Stellenbosch, tuiste van die universiteit se rugbyklub. Foto: Thys Lombard

Die verslag maak verskeie opspraakwekkende aantygings teen Roux, insluitend:

*Hy het miljoene rande tussen 2002 en 2010 op “ongerymde wyse” uit die US se reserwefondse gekanaliseer om die Maties-rugbyklub en verskeie beurse te befonds



*Hy het programmatuur – wat nie ’n ouditspoor laat nie – gebruik om reserwefondse na verskeie kostepunte oor te dra;

*Hy het sonder toestemming namens die US ’n ooreenkoms met die WP Rugbyvoetbalunie (WPRVU) gesluit en R4 miljoen aan die unie oorbetaal;

*Hy het die indruk by die bestuur van die Maties se rugbyklub gewek dat die klub danksy groot borge finansieel onafhanklik is. Dit was nie die geval nie; en

*Hy het nie ag geslaan op die universiteit se voorgeskrewe rekenkundige prosedures óf dit gevolg nie.

Die KPMG-verslag wat Jurie Roux en sy regspan wou dig hou.

Beeld en Netwerk24 het die KPMG-verslag bekom na meer as ’n jaar waarin Roux en sy regspan kliphard baklei het om dit dig te hou. Die hooggeregshof in Kaapstad het in Augustus bevind die koerant mag die verslag kry en het Roux verlof tot appèl geweier. Hy het hom toe direk na die president van die appèlhof gewend. Dié hof het ook in Beeld se guns beslis.

Die omvang van die ongerymdhede het selfs personeellede van die US en die rugbyklub onkant gevang.

Jean Swart, ’n personeellid by die studentegeld-kantoor, het aan KPMG gesê hy het geen rede gehad om Roux en De Beer se rekenkundige praktyke te bevraagteken nie: “Ek is onder die indruk gebring ’n ander stel reëls as dié vir gewone studente is op rugbyspelers van toepassing.”

Frikkie Naudé, voormalige president van die rugbyklub, en Belius Potgieter, voormalige bestuurder, het gesê hulle het die klub se finansies grotendeels aan Roux oorgelaat en hy het hulle laat glo die klub is danksy borge finansieel onafhanklik van die universiteit. Dit het later geblyk nie die geval te wees nie en hulle ontken dat hulle van die oordragte geweet het.

’n E-pos wat Jurie Roux aan Chris de Beer gestuur het waarin hy sy opvolger laat weet hoeveel ‘sparries’, of spaargeld, hy vir De Beer agterlaat. Die boodskap is gestuur toe Roux as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie aangestel is.

KPMG sê in die verslag daar is geen bewyse van enige betaling na Roux se eie bankrekening of dat hy persoonlik uit die oordragte voordeel getrek het nie.

Grant wou nie kommentaar lewer oor die geld wat hy ontvang het nie. 

Chean Roux wou op advies van Erasmus niks sê nie.

Joubert het gesê hy het nie soos in die KPMG-verslag aangedui geld in 2008 en 2009 ontvang nie. Hy het sy laaste skuld aan die US in 2006 vereffen.

Marnitz se kommentaar sal bygewerk sodra dit ontvang word.

Sô het ondersoek begin

Die US het KPMG op 16 November 2012 gevra om beweerde ongerymdhede by die studentegeld-kantoor en die befondsing van die Maties se rugbyklub te ondersoek.

Die voorlopige verslag is op 22 Augustus 2013 aan Jacques van Wyk van die regsfirma Werksmans oorhandig.

Dit het die grondslag gevorm van ’n klag wat die US in ooreenstemming met die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite by die Valke gelê het.

Dié lywige verslag, wat bestaan uit 85 bladsye, 29 aanhangsels en 42 bewysstukke, sit met behulp van finansiële state, briewe en e-posse in fyn besonderhede uiteen hoe Roux glo die US se finansiële bestuurstelsels ten bate van die rugbyklub omseil en sodoende geld bestee het wat eintlik vir akademiese programme bestem was.

Dit identifiseer ook gebreke in die rapporteringslyne by die US en belig swak finansiële bestuur by Stellenbosch se rugbyklub.


Meer oor:  Jurie Roux  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.