Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Krater in pad geruk toe vragmotor ontplof
Stukke van die vragmotor se wrak word Vrydagoggend verwyder. Die vragmotor het aan die brand geslaan en ontplof. Niemand is in die voorval beseer nie.

’n Bestuurder het Donderdagaand waarskynlik die lewens van talle motoriste gered toe hy hulle betyds gewaarsku het dat sy vragmotor gaan ontplof.

Die ontploffing kon sover as Secunda – 50 km verder – gehoor word en ’n massiewe krater is in die pad geruk.

Die vragmotor, wat plofstof vervoer het, was op die R50-pad tussen Delmas en Leandra onderweg.

Die bestuurder, wie se naam nog nie bekend is nie, het besef hy het groot probleme toe sy vragmotor – vermoedelik weens die remme wat onklaar geraak het – aan die brand geslaan het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het Vrydag bevestig dat niemand in die ontploffing beseer is nie.

Volgens hom blyk dit dat die bestuurder vlamme by sy sleepwa opgemerk het. Hy het stilgehou en dadelik die ander motoriste en mense in die omgewing oor die dreigende gevaar gewaarsku.

Inwoners in die onmiddellike omgewing van die ontploffing het aan Netwerk24 gesê dit het soos ’n aardskudding gevoel.

Op beeldmateriaal van veiligheidskameras kan gesien word hoe die vragmotor kort voor 22:00 ontplof. Feitlik niks het van die vragmotor en die sleepwa oorgebly nie.

Teen daglig kon die massiewe krater regoor die pad gesien word. Stukke van die vragmotor se enjin het om die gat gelê.

Dit is nog nie duidelik hoe die verkeer op dié deel van die pad gereguleer word nie.

Supt. Isaac Mahamba, metropolisiewoordvoerder in Pretoria, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Die toneel waar die vragmotor met ’n vrag plofstof Donderdagaand op die R50-pad tussen Delmas en Leandra ontplof het.
Die massiewe krater in die pad nadat die vragmotor met plofstof aan die brand geraak en ontplof het.
’n Stuk van die R50 Vrydagoggend nadat ’n vragmotor met ’n vrag plofstof aan die brand geslaan en ontplof het. Wrakstukke lê oral rond.

Meer oor:  Secunda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.