Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kredietwet sal armes na woekeraars lei

Die ANC se Kredietwysigingswet – wat banke dwing om die skuld van sommige armes af te skryf – gaan uiteindelik miljoene behoeftiges in die arms van gewetenlose township-mikro-uitleners dryf.

Kenners bereken dat daar sowat 9,5 miljoen mense in die land is wat minder as R7 500 per maand verdien en ongesekureerde skuld van minder as R50 000 aangegaan het. ’n Verslag wat ’n konsultantegroep, Eighty-20, vir die nasionale tesourie opgestel het, dui daarop dat sowat 9,2 miljoen van hulle vir skuldingryping, soos dit in die wetsontwerp uitgestippel word, kwalifiseer. Van hulle is 3,5 miljoen meer as drie maande agterstallig met hul ongesekureerde skuld.

Volgens die voorstelle wat tans ter tafel is en deur die ANC ondersteun word, gaan die Nasionale Verbruikerstribunaal magte kry om hierdie mense se skuld te herstruktureer sodat hulle nie langer rente daarop betaal of administrasiegeld vir die skuld gehef word nie. As so ’n persoon se finansiële posisie ná twee jaar nog nie verbeter het nie, word sy skuld afgeskryf.

Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van Mikrofinansiering Suid-Afrika, die sambreelorganisasie van sowat 1 200 gereguleerde mikro-uitleners, sê banke en mikro-uitleners gaan bloot ophou om geld aan mense in dié inkomstegroep te leen. Hulle gaan geen keuse hê nie as om hulle te wend tot mashonisas – soos die genadelose en ongereguleerde woekeraars in die townships bekend staan.

Hier het hulle absoluut geen beskerming teen uitbuiting nie,” sê Ferreira.

Die Britse mikro-uitlener Wonga het in ’n onlangse navorsingsverslag bereken dat daar sowat 40 000 mashonisas in Suid-Afrika bedrywig is. Die Wonga-verslag toon ook dat ma­shonisas se bedrywighede beslis toeneem sodra kredietverlening ingekort word.

Neil Roets, ’n prokureur wat ’n skuldberadingsonderneming bedryf, sê daar is beslis ’n behoefte aan skuldberading vir mense wat minder as R7 500 per maand verdien.

Skuldberading as finansiële diens het volgens hom die afgelope tien jaar as ’n volwaardige finansiële diens tot stand gekom en word deur duisende prokureurs beoefen.

“Die aanvanklike bedoeling was dit vir laer inkomstegroepe moet wees, maar dit het nie vir hulle gewerk nie omdat daar onvermydelike kostes betrokke is. Iemand wat R4 000 of R5 000 per maand verdien, het net R500 per maand beskikbaar om skuld te betaal. Om regsgeld daaruit te probeer druk, is onmoontlik en onregverdig. Ons het beslis wetgewing van die aard nodig,” sê hy.

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel en nywerheid, sê hulle het ook aanvanklik die wetsontwerp gesteun omdat dit arm mense wat skuld het, maar geen inkomste of bates nie, sou help.

Dit sou ’n “komitee-wetsontwerp” wees, waarin opposisiepartye ten volle deelneem aan die skryf daarvan. Hy sê dié idee het verdamp nadat dit duidelik geword het dat dit die ANC se “2019-verkiesingswetsontwerp” geword het.

Meer oor:  Wonga  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.