Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Krieketunie skik met oud-finanshoof

’n Vertroulike skikkingsooreenkoms is Woensdag tussen die Vrystaatse Krieketunie en Herman Bakkes, vorige finansiële bestuurder van die unie, bereik.

Luidens ’n verklaring deur die unie is die skikking ná onderhandelinge tussen albei partye se regsverteenwoordigers bereik.

“Hierdie skikking is vervat in ’n formele ooreenkoms, wat ’n vertroulikheidsbepaling bevat en wat tot gevolg het dat die partye nie die voorwaardes van die skikking in die media mag openbaar maak nie,” lui die verklaring.

Die verklaring lui voorts dat die unie die saak as afgehandel beskou, mits Bakkes aan die ooreenkoms voldoen.

Die unie het die voormalige Vrystaat-krieketspeler, wat vroeër vanjaar onder ’n wolk uit sy pos bedank het, vir R177 500 gedagvaar.

Herman Bakkes in sy speeljare. Foto: Touchline Photo

Luidens die dagvaarding, wat in die hooggeregshof in Bloemfontein uitgereik is, het Bakkes dié geld die afgelope vyf jaar wanaangewend deur dit onregmatig uit bankrekeninge van die unie na sy persoonlike bankrekening oor te plaas.

Na verneem word, het die unie se raad ook opdrag gegee dat ’n strafregtelike klag teen dié bekende in Vrystaatse krieketkringe by die polisie ingedien moet word.

Ingevolge wetgewing moes die saak ook by die beslagleggingseenheid van die openbare vervolgingsgesag aangemeld word, omdat die bedrag R100 000 oorskry het.

Dit is nie duidelik wat nou van hierdie sake gaan word nie.

Na verneem word, het Bakkes vroeër vanjaar ná ’n dissiplinêre ondersoek teen hom uit sy pos by die unie bedank en ’n soortgelyke pos by ’n maatskappy in die Noord-Kaap aanvaar.

Hy was vir byna 14 jaar die finansiële bestuurder van die unie. Die unie het kort ná sy bedanking van die beweerde onreëlmatighede bewus geword.

’n Forensiese ondersoek deur die ouditfirma PwC is toe gelas.

* Bakkes, wat in Kroonstad grootgeword het, het vir 12 seisoene eersterangse krieket gespeel en het sy laaste wedstryd in 2004 vir die Vrystaat gespeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.