Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'n Oorlog dreig in SA rugby

Die presidente van Suid-Afrika se 14 provinsiale unies beplan om volgende week in Johannesburg te vergader om die krisis in rugby te bespreek.

Daar is nog nie op ’n datum vir die vergadering besluit nie.

Oregan Hoskins Foto: HERMAN VERWEY

As dit voortgaan, sal dit sonder Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), en die res van Saru se uitvoerende komitee wees.

Dit gaan onder onafhanklike voorsitterskap gehou word.

Hoskins is in etlike presidente se visier. Gerugte dat ’n mosie van wantroue teen hom ingestel gaan word, was die afgelope week steeds in omloop.

Hy het vroeër vandeesmaand probeer om Jurie Roux as Saru se uitvoerende hoof geskors te kry. Verreweg die meeste lede van Saru se uitvoerende komitee, asook die uniepresidente, blyk in Roux se kamp te wees.

Roux word daarvan beskuldig dat hy destyds in diens van die Universiteit Stellenbosch (US) onregmatig etlike miljoene rande aan die Maties-rugbyklub bestee het. Besonderhede daarvan is vervat in ’n voorlopige verslag deur die ouditfirma KPMG.

Saru het in 2014 met dieselfde verslag onder oë Roux se kontrak met vyf jaar verleng.

Hoskins het die week ná die vergadering van Saru se uitvoerende komitee op 5 Februarie uniepresidente ingelig hy wil Roux skors.

Presidente het daarna onderling geskakel en hulle meen hulle het nie almal dieselfde boodskap by Hoskins gekry nie.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Woensdag in Sandton. Foto: Christiaan Kotze

“Suid-Afrikaanse rugby dobber rond en die vergadering sal daarop gemik wees om rigting daaraan te gee,” het ’n betroubare bron anoniem aan Beeld gesê.

“Die presidente wil sake in Suid-Afrikaanse rugby in diepte bespreek. Die Jurie Roux-kwessie en Hoskins se optrede sal onder die loep geneem word.”

’n Mosie van wantroue in ­Hoskins is vir eers nie op die agenda nie. “Tans het Suid-Afrikaanse rugby nie ’n enjin nie. Daar word rondgedobber. Die

leiers moet tot orde geroep word,” het

Beeld se bron gesê.

Die aanstelling van ’n nuwe Springbok-afrigter is een van die belangrike kwessies wat sloer.

’n Komitee is wel saamgestel om kandidate te identifiseer.

Etlike kwessies sal in die aanloop tot Saru se jaarvergadering op 1 April op die spits gedryf word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.