Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kroegeienaar vasgevat toe hy aansit-drankies bedien
Henk HanekomFoto: Verskaf

Die eienaar van twee kroeë in Pretoria sê sy oogmerk was nie om die wet te oortree toe hy Woensdag sy kuierplekke vir aansit-drankies oopgestel het nie.

Henk Hanekom, eienaar van die Twisters Pub & Grill in Rietfontein en die een in Pretoria-Noord, glo hy het binne sy reg opgetree om weer ’n inkomste vir hom en sy 30 werknemers te probeer verdien.

“My kuierplekke is sedert 27 Maart weens die Covid-regulasies gesluit. Nie een van my werkers het enige Ters-betaling (Covid-19-Ters-voordele van die Werkloosheidversekeringsfonds) van die staat gekry nie en ek het geen inkomste gehad om hulle te betaal nie,” sê hy.

Die polisie het egter Woensdagaand op die een kroeg toegeslaan, op die drank beslag gelê, die kroegman in hegtenis geneem en vir Hanekom glo voor ’n keuse gestel: teken ’n waarskuwing dat hy nie weer drank op die perseel sal bedien nie, of ’n dossier word teen hom geopen vir die oortreding van die regulasies van die staat van inperking, waar hy ook sy dranklisensie kan verloor en met ’n minimum van R100 000 beboet kan word.

“Wat kon ek maak? Ek moes maar teken,” sê hy.

Mlungisi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê dit is steeds ingevolge die regulasies onwettig om drank op ’n perseel te bedien waar die klante dit daar drink.

“Oortreders kan hul dranklisensies verloor en beboet word, selfs tronk toe gaan,” sê hy.

Hanekom wil nou ’n webblad begin om steun vir ’n hofsaak teen dié regulasie te werf.

Polisie ‘tree onregmatig op’

Hanekom se een prokureur, Carel Taute, sê hulle gaan die polisie dagvaar vir onregmatige inhegtenisneming van die kroegman.

Volgens die prokureur steun hulle op die regsbeginsel dat daar net regulasies gemaak mag word wat keer dat oordrag van die virus plaasvind.

“ ’n Klomp van die regulasies hou nie verband met die doelwit van die wet nie en maak inbreuk op mense se grondwetlike reg om vir hulself te kan sorg.

“Ons praat van gewone mense wat vir maande lank geen inkomste gekry het nie en nou soos misdadigers hanteer word.

“Dit help nie die aansteekkoers van die virus word laag gehou en mense sterf van die honger nie,” sê Taute.

“Die haarkappers, gimnasiums, almal behalwe die kroeë is hof toe, maar niemand staan vir ons op nie,” sê hy.

“Voordat ek my kroeë Woensdag oopgemaak het, het ek eers met Reyno de Beer van die Liberty Fighters Network (LFN) gepraat. Ek is nie ’n regskenner nie, maar ons albei het die hof se bevinding dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (minister van samewerkende regering en tradisionele sake) se inperkingsregulasies ongrondwetlik is, dieselfde vertolk.”

Dlamini-Zuma is intussen vir sekere aspekte van die uitspraak verlof tot appèl toegestaan.

Hanekom sê hy het ook met prokureurs gekonsulteer en ’n brief aan die regering se advokaat in die LFN/Dlamini-Zuma-saak, sowel as die Villieria- en Pretoria-Noord-polisie, gestuur dat hy sy kroeë vir aansit-drankies gaan open.

“Ek het verduidelik hierdie situasie vernietig my onderneming, hoe ons die wet en hofuitspraak vertolk en dat ek met die nodige beskermingsmaatreëls sal oopmaak. Ek het gesê my doel is nie om die wet te oortree nie en dat ek, volgens my, binne my regte optree,” sê Hanekom.

Woensdag het die polisie van Villieria by sy Twisters-kroeg in Rietfontein opgedaag. Hanekom het die briewe, hofstukke en die regulasies gewys.

Hy sê hy is versoek om na die polisiekantoor te kom om dit met die stasiebevelvoerder te bespreek.

Hy het prokureurs saamgeneem en by die polisiekantoor is daar glo ooreengekom om ’n vergadering Donderdag te hou omdat die stasiebevelvoerder nie beskikbaar was nie.

Hanekom het sy kroeg oopgehou.

Daardie aand het die polisie egter weer opgedaag, op die drank beslag gelê en die kroegman in hegtenis geneem. Hanekom weet nie op watter klag nie, maar hy sê hy het probeer verduidelik dat die polisie eerder vir hom as die eienaar moet toesluit.

Hulle wou nie en Hanekom het later sy werknemer se borgtog van R1 000 betaal.

Nou vra hy: “Agbare president, wie gaan vir my werknemers sorg terwyl hulle hul werk ontneem word?”


Meer oor:  Boete  |  Kroeg  |  Inhegtenisneming  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.