Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Krokodil gryp 15-jarige: ‘Oom, gaan ek doodgaan?’

“Gaan ek nou doodgaan, oom?”

Hesmarie van Loggerenberg (15)

Dit was Woensdagmiddag die smeekwoorde van Hesmarie van Loggerenberg (15) aan Gert Botes terwyl hy en ander mans haar van ’n gewisse waterdood uit die kake van ’n krokodil gered het.

Toe sê Botes vir haar: “Nee, jy sal nie doodgaan nie, die Here gaan jou deurtrek.”

Die krokodil het Hesmarie in ’n swemgat in die Elandsrivier by Swartruggens, Noordwes, gegryp waar sy met haar voete in die water gesit het. Volgens Hesmarie se ouma, Susan van Loggerenberg, het sy weggeruk toe sy iets onder haar voete voel, en toe gryp die krokodil.

Marius Vermeulen, wie se huis sowat 100 m van die swemgat is, sê hulle kon Hesmarie se histeriese gille tot daar hoor.

Intussen het twee seuns wat ook in die swemgat was, na hul huis langsaan dié van Vermeulen gehardloop en geskree: “Hy het haar, hy het haar!”.

Hul pa, Nelson Harmse, Hennie van der Merwe (Vermeulen se skoonseun) en onder andere Botes en Leon van Niekerk, wat in die omgewing woon, het hulle na die swemgat gehaas.

Hulle het Hesmarie in die kake van die krokodil daar gevind. Haar onderlyf was onder die water en haar bene in sy kake. Haar bolyf het nog bo die water uitgesteek.

Botes het haar gemaan om kalm te bly en haarself na die kant van die watergat te werk. Hy het klippe na die krokodil gegooi.

Harmse het ’n stok na haar uitgehou en vir haar gesê sy moet die krokodil skop. Met die skop het sy bek oopgegaan en Harmse het haar weg van die krokodil geruk. “Sy het die stok gegryp; haar kneukels was spierwit soos sy geklou het,” sê Botes.

Toe Hesmarie nader aan die kant was, het die mans haar aan haar arms uit die water getrek.

Die krokodil van sowat 2 m lank was ’n “meneer,” sê Van der Merwe.

Vermeulen, wat opgelei is in noodhulp, is intussen met sy noodhulpkissie na die toneel. “ ’n Stuk vleis so groot soos ’n man se hand is uit haar linkerkuit geruk. Sy het diep sny- en bytwonde aan haar linker- en regterbobeen gehad.”

Cinda de Klerk en Marius Vermeulen (weerskante van Hesmarie) versorg haar wonde Woensdagmiddag op die toneel. Hesmarie se gesig is verberg op dié foto wat op ’n noodgroep rondgestuur is.

Cinda de Klerk, van die Bakwena-reddingspan, is intussen ook na die toneel waar sy gehelp het om Hesmarie se wonde te verbind. “Dit het nie so baie gebloei nie, dit lyk asof geen hoof-are raakgebyt is nie. Hesmarie was so wit soos ’n laken en erg getraumatiseer.”

Sy is van die rivier na ’n plaaslike hospitaal geneem en is intussen na die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg oorgeplaas.

Haar wonde is Donderdagoggend onder narkose skoongemaak, maar sy sal waarskynlik plastiese chirurgie moet ondergaan.

Hesmarie se pa, Hendrik, sê sy dogter is “glad nie haarself nie, huil baie en is sommer net kwaai”.

So het Hesmarie se langbroek gelyk nadat dit van haar bene losgesny is om haar wonde te kan versorg.

Haar ouma (Susan) meen daar moes lankal iets gedoen geword het aan Nylkrokodille wat glo by ’n nabygeleë krokodilplaas (sowat 500 m van die Elandsrivier) uitgekom het. Hulle en verskeie ander inwoners het aan Netwerk24 gesê mense sien kort-kort ’n krokodil in die rivier. Nylkrokodille kom ook natuurlik in Suid-Afrika voor.

Noordwes se departement van omgewingsake is na wat betroubaar verneem word, nou op soek na die krokodil wat Hesmarie aangeval het. Die departement het Donderdagmiddag beloof om kommentaar te lewer sodra hy meer inligting het.

Gawie le Roux, voormalige eienaar van die krokodilplaas, sê voordat hy die plaas in Januarie 2018 aan ’n Duitser verkoop het, het die departement van natuurbewaring elke drie jaar ’n veiligheidsinspeksie gehou en sy permit goedgekeur.

“Ek kan nie my mening gee oor wat gebeur het nadat die plaas verkoop is nie. Enigiets is moontlik indien drade geknip en hekke oopgelos word. Die nuwe eienaar het nie vir die plaas betaal nie. Ons het in Desember 2018 agtergekom hy het die plaas verlaat en die diere onversorg daar gelos. Ek het toe na die krokodille gekyk totdat die plaas later in 2019 op ’n veiling verkoop is.”

Die swemgat in die Elandsrivier waar Hesmarie van Loggerenberg deur ’n krokodil gebyt is. Die sirkel dui aan waar die krokodil haar gegryp het.

“Krokodille hét weggeraak”

Die huidige eienaar van die plaas het versoek dat sy naam nie gepubliseer word nie. Hy sê die dag van die veiling in Junie 2019 is vasgestel die aantal krokodille op die plaas is minder as die oorspronklike getal.

“Dis dus nie net gerugte dat van die krokodille verdwyn het nie. Hulle was tot in September (2019) in hibernasie, waarna hulle gevang en na hul nuwe kopers is. Die kopers het hulle ook gevoer en versorg nadat hulle die diere in Junie gekoop het.

“Die plaas is in November 2019 in my naam oorgedra. Ek het nooit in die krokodille belang gestel nie. Ons boer met beeste.”

Volgens hom is daar ook ander plase in die omgewing waar krokodille aangehou word en dit is dus nie ’n uitgemaakte saak dat die krokodil wat Hesmarie aangeval het, wel (vroeër) by sy plaas uitgekom het nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.