REGSTELLING
Die foto wat voorheen by hierdie berig geplaas is, is intussen vervang. Die foto wat gebruik is, wys ‘n vakansieoord wat langs die Breërivier in die Bonnievale-omgewing geleë is. Netwerk24 vra om verskoning aan Olifantskrans River Cabins indien die verkeerde indruk geskep is dat die ontsnapte krokodille moontlik spesifiek naby die lodge is.
Die soektog na krokodille wat uit ’n kommersiële teelplaas in Bonnievale in die Wes-Kaap ontsnap het, duur voort.
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê die eienaar van die plaas, ander grondeienaars in die gebied en die polisie kon reeds 20 jong Nylkrokodille vang.
’n Onbekende getal krokodille word egter nog vermis. Hulle het vermoedelik beweeg na die Breederivier, wat in die gebied is.
Die krokodille se lengte wissel van 1,2 m tot 1,5 m. Hulle hou nie groot gevaar in vir mense nie, omdat met hulle geteel word. Hulle kry gereeld kos en hoef nie te jag nie, luidens ’n verklaring.
Die krokodille bly egter wild en is gevaarlik.
Bredell het ’n beroep gedoen op mense in Bonnievale en die omliggende gebied om op die uitkyk vir die krokodille te wees.
“’n Gebied sowat 5 km stroomop na Robertson en 5 km stroomaf na Swellendam is die sleutelgebied. CapeNature en sy vennote sal aanhou soek na hulle en het strikke gestel met aas om die oorblywende krokodille te vang. Patrollies sal snags langs die rivier gedoen word,” het hy gesê.
Mense wat die krokodille gewaar, moet dadelik die owerhede of hul naaste polisiekantoor kontak.
Luidens ’n verklaring van die polisie in Bonnievale het die eienaar van die krokodilplaas Dinsdag omstreeks 07:00 ontdek dat van die krokodille uit een van die kampe ontsnap het. Sowat 25 krokodille is deur die loop van die oggend gevang. Hulle kon vasstel dat die krokodille die Breederivier in is. Die rivier is sowat 300 m van die teelplaas.