Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kry ’n FAK-kaart en help só monumente oorleef

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) stel as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekend. Die doel daarvan is om monumente se finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, “is kultuur en monumente vir baie mense ’n lae prioriteit te midde van die baie uitdagings waardeur ons land tans in die gesig gestaar word”.

Kerkenberg

“Tog is monumente inspirasieplekke wat ons sigbaar aan die vele uitdagings herinner wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp.”

Deel van die hulpprogram is nie net finansiële steun uit die FAK se geskiedenisfonds aan monumente in nood nie, maar ook die uitreik van kultuurkaarte aan FAK-vriende. Deur middel van kultuurkaarte kry FAK-vriende agtergrondinligting oor verskeie geskiedkundige plekke, ’n roetekaart na monumente en ook afslag op toegangsgeld.

“Die staat gaan nie ons monumente help nie. Afrikaners sal self daarvoor verantwoordelikheid moet aanvaar om in krisistye ons geskiedenis vir ons nageslag te bewaar. Die kultuurkaarte is nie net praktiese bemarkingshulp aan ons monumente om meer voete te lok nie, maar saam met finansiële ondersteuning ’n daadwerklike poging om ons erfenis se deure oop te hou.”

Die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se prioriteitslys. Weens die verlies aan toerisme-inkomste gedurende die nasionale staat van inperking is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure sal moet sluit.

Die Voortrekkermonument

Volgens dr. Christo Pretorius, voorsitter van die Voortrekkermonument-direksie, het dié nasionale erfenisbate en ikoniese Afrikanermonument wat deur Gerard Moerdijk ontwerp en in 1949 geopen is, soos alle bewarings-, toeriste- en opvoedkundige instansies die afgelope twee maande gesukkel om te oorleef. Die Voortrekkermonument is ’n gewilde toeristebestemming vir plaaslike en buitelandse besoekers en sal waarskynlik een van die laaste plekke wees wat weer ten volle sal mag funksioneer met die geleidelike verslapping van die inperkingsregulasies.

Die FAK het ’n lang geskiedkundige verbintenis met die Voortrekkermonument. Op 4 April 1931 is die Sentrale Volksmonumentekommissie as die eerste komitee van die FAK in Bloemfontein gestig. Die doel van die kommissie was om die Voortrekkermonument te bou. Die eindresultaat van die FAK-kommissie was die Voortrekkermonument in Pretoria, die Bloedriviermonument, die Voortrekkermonument in Winburg en die Retief-standbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg.

Volgens Langner is een van die FAK se geskiedenisfonds se hoofoormerke om gemeenskappe en kultuurorganisasies te ondersteun in hul groot taak om plaaslike erfenisterreine te bewaar en te onderhou. Daarby beywer die FAK hom vir die herstel en bewaring van bestaande Afrikanermonumente, asook die ontwikkeling van nuwe monumente om ons geskiedenis te vier.

Die Smutshuis in Irene, Centurion.

Onder die vaandel van die geskiedenisfonds het die FAK verlede jaar begin om nuwe Afrikanermonumente te bou. Die eerste beelde wat opgerig is, is ’n beeld van dr. N.J. van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK, asook die Penkop-beeld, wat op 13 Junie by die FAK se Udolpho-rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul is. Vanjaar gaan die Sorg-beeld op 16 Junie by die Irene-konsentrasiekamp in Centurion onthul word en ’n Vrouebeeld ter ere aan die ma’s en dogters wat uit die ashope van die verskroeide aarde ’n nuwe toekoms begin bou het. Die FAK sal ook bystand verleen aan die Kroonstad-konsentrasiekamp, Kerkenberg, Smutshuis en ander Afrikanermonumente en erfenisterreine wat om hulp aansoek doen.

Jy kan help

Vandag rus die verantwoordelikheid op die skouers van oupas en oumas, pa’s en ma’s, gemeenskappe en kultuurorganisasies om die geskiedenis aan die volgende geslag oor te dra. Die FAK wil graag gesinne, families en gemeenskappe bystaan om geskiedenis en monumente vir die toekoms te bewaar.

Stuur ’n SMS na 45730 (R1,50) of besoek monumente.co.za om die FAK se geskiedenisfonds prakties te ondersteun.

Meer oor:  Danie Langner  |  Oorleef  |  Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.