Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kuberkrakers eis losprys by City Power

Die departement staatsveiligheid help die stad Johannesburg nadat ’n rekenaarvirus City Power Donderdag verlam het.

Dié kragvoorsiener sê in ’n verklaring ’n sogenaamde Ransom-virus het sy IT-stelsel binnegedring en die sagteware en databasis aangeval.

“Die virus het ons netwerke en rekenaartoepassings ontwrig. Gevolglik kon verbruikers nie elektrisiteit koop of die webwerf besoek nie. Boonop kon fakture ook nie gelaai word nie,” lui die verklaring.

In die verklaring word verbruikers wat sonder krag sit gewaarsku oor verlangsaamde diens.

“Die City Power IT-span werk sedert Donderdagoggend 01:00 om die probleem op te los. Ons hoop die probleem is heeltemal teen laatmiddag opgelos.”

Volgens City Power was die meeste stelsels teen 16:30 herstel. Dit sluit die vooruitbetaalde aanlyn stelsel in.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê verbruikers se rekeningbesonderhede is nie deur die virus binnegedring nie.

Kenners sê dié virus ontwrig ’n rekenaarstelsel met ’n kode wat dit onmoontlik maak om te gebruik. ’n Losprys word gewoonlik geëis, vandaar die virus se naam Ransom.

In dié geval is ’n losprys ook geëis, maar die Stad Johannesburg het dit nie betaal nie. Mangena wou nie sê hoeveel geld geëis is nie. “Wat ek wel kan sê is dat die departement staatsveiligheid sy dienste beskikbaar gestel het om die aanval af te weer.”

Die oorsprong van die aanval word ondersoek.

Intussen sê Jan-Harm Henning van Legis IT Solutions in Centurion kuberkrakers eis gewoonlik ’n betaling in bitcoin.

“Dié virus wat as ’n aanhangsel by ’n e-pos verskyn, kan deur ’n behoorlike antivirus-program voorkom word.”

Kate Mollett, streeksbestuurder van Veeam, ’n verskaffer van aanlyn sekerheidsdienste, sê dié soort aanvalle kan met enigeen gebeur.

“Die werklikheid is dat enige onderneming hierdeur geraak kan word. Jy is nooit 100% veilig nie.”

’n Goeie rugsteunstelsel is nodig om inligting te herwin.

Meer oor:  City Power  |  Losprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.