Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kumba maak groot wins, maar wil honderde aflê

Die vakbond Solidariteit sê hy sal nie die beoogde afleggings by die Kumba Iron Ore-myn duld nie.

Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir mynbou, landbou en chemies by Solidariteit, het Vrydag Kumba Iron Ore se afleggingskennisgewing, wat 1 620 personeellede raak en ’n voorgestelde 653 werksverliese tot gevolg kan hê, ten sterkste veroordeel.

Die Kumba Iron Ore-myn naby Kathu in die Noord-Kaap Foto: Anglo American

Dit kom nadat Kumba sy finansiële resultate bekend gemaak het. Die resultate toon ’n reusegroei in omset en wins vir 2020.

“Dit is onbillik en bloot gevoelloos vir Kumba om werkers te straf en dit te midde van ’n pandemie en uitmuntende finansiële prestasie met verhoogde omset, winste en verklaarde dividende. Die rasionaal wat Kumba aanvoer, het net gewoon geen gronde nie,” sê Visser.

Die vakbond sê Kumba se werknemers moet eintlik beloon word vir die uitstekende prestasie ondanks die ongelooflike moeilike omstandighede.

“Nou word hulle eerder gestraf. Ons lede moes regdeur hierdie krisis werk. Hul families is reeds deur afleggings geraak en hulle sukkel om kos op die tafel te hê. Ons verstaan dat daar bedrywe is wat tans ontsettend swaarkry, maar dit maak dit net soveel erger wanneer ’n mynreus soos Kumba ná ’n uitstekende finansiële jaar ook werknemers wil aflê,” sê Visser.

“Met werkloosheid wat tans op die hoogste vlak in Suid-Afrika se geskiedenis is, kan ’n onderneming sulke optrede geensins regverdig nie. Ons sal dit nie duld nie.”

Solidariteit het Kumba gemaan om die afleggingsproses te herevalueer.

“Ons doen ’n beroep op Kumba om verdere werksverliese in die bedryf te stop.”

Sinah Phochana, Anglo American-woordvoerder, sê die Kumba Iron Ore-myn is al vir die afgelope paar jaar besig met besigheidstransformasie.

“Ons is besig met die implementering van ons Tswelelopele-strategie om ons marges te verbeter, die lewensduur van ons myne te verleng, kostes te bestuur en die gelykbreekprys te verminder om sodoende te verseker dat ons volhoubaar kan bly vir die toekoms.”

Hy sê as deel van die transformasie ontplooi die myn nou deurbraaktegnologie en nuwe werkwyses sodat hulle veiliger, skoner, meer produktief en ook meer kompeterend op die wêreldverhoog kan wees.

“So dryf ons die aanvraag vir gehalte-ystererts. Dit sluit ook ’n geteikende, organisatoriese herstrukturering in om te verseker dat die regte werk op die regte tyd, op die regte manier, gedoen word deur bekwame mense in rolle wat ontwerp is met duidelike aanspreeklikheid.”

Die Kumba Iron Ore-myn naby Kathu in die Noord-Kaap Foto: Anglo American

Phochana sê Kumba het met ’n doelgerigte konsultasieproses met die werknemers wat geraak kan word, begin.

“Ons fokus sal daarop wees om hulle te help om die oorgang te hanteer en op die toekoms voor te berei.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.