Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kunstefees: ‘Krane sal water hê, ligte sal brand’

Die krane sal nie opdroog nie, die ligte sal aanbly en die strate sal blink – dit was die voorneme van die Makana-munisipaliteit voordat duisende besoekers vandeesweek vir die Nasionale Kunstefees op Makhanda (Grahamstad) toesak.

Mzukisi Mpahlwa, burgemeester, het dié versekering in ’n verklaring gegee nadat inwoners van Makhanda vroeër vanjaar in rye gestaan het om waterhouers by watertenkwaens vol te maak toe opgaardamme opgedroog en ’n watersuiweringsaanleg nie teen volle kapasiteit gewerk het nie.

Oor ’n paar dae sal Hoogstraat op Makhanda wemel van besoekers aan die Nasionale Kunstefees. Foto: Argief

Met boorgate en die aanlê van infrastruktuur het die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers maande lank humanitêre bystand gelewer, voordat hulle in Mei onttrek het omdat hulle nie daarmee kan volhou sonder die finansiële steun van die regering nie.

Mpahlwa het in ’n verklaring gesê hy besef die gemeenskap is bekommerd oor die watersituasie, elektrisiteitstoevoer, asook die toestand van sommige strate in die dorp, maar sê die munisipaliteit sal alles moontlik doen om die fees, wat volgens hom ’n groot finansiële inspuiting vir die dorp is, suksesvol te laat afloop.

Luidens sy verklaring het ’n impakstudie van die 2016-fees, wat deur die Rhodes-Universiteit se ekonomiese departement gedoen is, daarop gedui dat die fees sowat R377 miljoen tot die provinsie se ekonomie bygedra het.

Volgens hom kan die dorp en provinsie nie bekostig om die fees te verloor nie en daarom is talle voorsorgmaatreëls getref om te verseker die fees verloop sonder onderbrekings.

Een van dié voorsorgmaatreëls is infrastruktuur wat aangebring is sodat water, indien nodig, van die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg na die Waainek-watersuiweringsaanleg vir die dorp gepomp word. Dié infrastruktuur sal 3,5 megaliter water per dag tussen die twee aanlegte kan pomp.

’n Boorgat by die 1820 Setlaars-monument word as plan B vir watertoevoer gehou.

Wat die elektrisiteit op die dorp behels, meen Mpahlwa ’n hofinterdik het verseker dat die ligte aanbly.

Die Makana-munisipaliteit het die aansoek by die hooggeregshof op Makhanda ingedien en gewen toe Eskom gedreig het om die kragtoevoer af te sny weens wanbetaling van die skuldbetalingsooreenkoms.

Volgens Mpahlwa het Eskom ingestem om die ooreenkoms te hersien en sal daar geen kragonderbrekings tydens die fees wees nie.

Luidens Mpahlwa se verklaring sal munisipale werkers, in samewerking met die Makana Revive-veldtog, die dorp opruim, asook verseker dat al die straatligte werk.

Die Nasionale Kunstefees word van 27 Junie tot 7 Julie op die dorp gehou.

Meer oor:  Nasionale Kunstefees  |  Makhanda (Grahamstad)  |  Water  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.