Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Kwarantyn’: Emosionele ma groet gesin ná k-woord

“Julle gaan die stukke optel binne en ek gaan die stukke optel buite.”

Dit was die woorde van ’n emosionele Jana le Roux (49) nadat sy Vrydagaand van die kykNET-werklikheidsreeks Kwarantyn gediskwalifiseer is.

’n Emosionele Jana le Roux groet haar man, Braam, nadat sy gediskwalifiseer is. Foto: Skermgreep

Le Roux het Donderdagaand die k-woord in ’n regstreekse uitsending van die program gebruik. Die reeks word 24 uur per dag op DStv-kanaal 149 uitgesaai en wys hoe die Le Roux- en Scheepers-gesin teen mekaar meeding terwyl elk in ’n afsonderlike huis “in kwarantyn” is.

Die voorval het gebeur toe die twee gesinne aan die vasvra-speletjie 30 Seconds deelgeneem het.

Die Scheepers-gesin het die speletjie gewen.

Albei gesinne het saamgestem dat die speletjie moeiliker was as die vorige week, waarna Jana, die ma van die Le Roux-gesin, gesê het dit was ’n “k****rpak”.

Die Scheepers-gesin was ooglopend geskok en Le Roux het hulle later die aand om verskoning gevra.

Ferdinand Rabie, die aanbieder, het Vrydagaand in ’n videoboodskap aan die Le Roux-gesin gesê hy het geen ander keuse as om Jana te diskwalifiseer nie.

“Die belangrikste reël van Kwarantyn is dat ons geen diskriminasie of rassistiese opmerkings duld nie. Hierdie reël is gisteraand gebreek. Dit laat my geen (ander) keuse as om Jana te diskwalifiseer nie.”

Le Roux het hierná haar gesin om verskoning gevra. “Ek het dit verwag,” het sy gesê terwyl die res van die gesin mekaar getroos het. Sy het later bygevoeg, “ek weet dit was verkeerd”.

Braam, haar man, het ook gesê dit was verkeerd van haar.

“Maar God ken jou hart,” het hy met trane is sy oë vir sy vrou gesê.

“Die mense daarbuite, leer hieruit. Ons wil ’n nasie bou maar daar glip goed uit en daar gebeur goed . . . Dit gebeur in elke huis,” het hy gesê.

Braam het sy gesin aangemoedig om vir die kykers te wys “wie die Le Roux’s regtig is”.

“Ons gaan nie lê nie.”

kykNET het Vrydagaand in ’n verklaring gesê al die deelnemers word deeglik ingelig oor die gevolge van onaanvaarbare gedrag voordat hulle die huis betree.

“Die rassistiese aanmerking is nie net onaanvaarbaar, diskriminerend en in konflik met die Grondwet nie, maar ook nie in die gees van die program en in die aard en wese van kykNET nie. Ons vra om verskoning aan almal wat hierdeur beledig en seergemaak is,” het Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse kanale, gesê.

Oor die betrokke voorval sê die Menseregtekommissie (MRK) die gebruik van die woord kom op haatspraak neer. “Die kommissie kan selfs besluit om dit na die gelykheidshof te neem,” sê adv. André Gaum, kommissaris van die MRK.

“Mense wat hierdie soort afbrekende, kwetsende woorde gebruik wat groot pyn vir landgenote tot gevolg het, laat nasionale eenheid en samehorigheid ernstige skade ly. In plaas daarvan om ons land te bou, breek hulle dit af,” sê Gaum.

Meer oor:  Kwarantyn  |  Jana Le Roux  |  K-Woord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.