Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: 5-jarige in trane oor ‘haar stadsaal’ afbrand

’n Bloemfonteinse dogtertjie se hart is baie seer oor haar “geliefde stadsaal” wat afgebrand het.

En vra jy vir Natalie van Breda (5) hoekom dit afgebrand het, antwoord sy: “Want die skelms het met die vuurhoutjies gespeel.”

Sy doen al vandat sy 2 jaar oud is Freestyle-dans en wanneer sy haar heupies swaai, glimlag sy van oor tot oor.

Haar ma, Cristelle, eienaar van Dazzling Dance Studio in Fichardtpark, sê Natalie was in trane toe sy van die stadsaal uitvind.

“Die provinsiale kompetisie vind elke jaar in die saal plaas en sy het elke oomblik daar binne geniet,” sê sy.

“Die saal se vloer was vir haar so lekker omdat sy soveel makliker kon spring en nie seerkry wanneer sy split of val nie.”

Natalie, wat tans in die Kapie-kleuterskool in Fichardtpark is, se dansjuffrou, Liebin van Rensburg, het ’n video gemaak van hoe hartseer Natalie oor die stadsaal is.

Natalie van Breda (5) van Bloemfontein doen een van haar akrobatiese bewegings. Foto: Kgotso Molapo

In dié video, wat sedert Dinsdag al meer as 6 000 keer op Volksblad se Facebook-blad gekyk is, kan ’n mens skaars hoor wat Natalie sê omdat sy so erg huil.

Cristelle sê die dansers móét op ’n houtvloer dans omdat hulle baie akrobatiese bewegings uitvoer.

“Die houtvloer is darem ’n bietjie sagter as ’n teëlvloer. En die stadsaalvloer wat vere gehad het, was perfek vir die dans. Nou is alles tot niet.”

Haar dansers is tans besig om vir die provinsiale kompetisie wat in Augustus plaasvind, voor te berei.

“Dit sou ook die eerste keer in jare wees dat die nasionale kompetisie hier in Bloemfontein in die stadsaal plaasvind. Maar dis nou baie onseker waar albei kompetisies gehou sal word.”

Intussen troos Cristelle vir Natalie met die hoop dat die stadsaal binnekort herstel sal word sodat sy weer daar sal kan dans.


Meer oor:  Bloemfontein  |  Afgebrand  |  Stadsaal  |  Huil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.