Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 8 EFF-betogers in arres ná Brackenfell-geweld

Agt EFF-betogers is Vrydagmiddag vir openbare geweld in Brackenfell, Kaapstad, in hegtenis geneem nadat verskeie private voertuie, asook voertuie van die metro se wetstoepassers en die polisie beskadig is.

Die Brackenfell-poskantoor en verskeie ander privaat besighede het ook onder vandale deurgeloop soos wat die betoging van die sowat 2 000 EFF-lede deur die loop van die bloedige warm dag al hoe meer handuit geruk het.

Die betoging, waarvoor net ’n permit vir net 100 mense gekry is, spruit uit beskuldigings van rassisme by die Hoërskool Brackenfell nadat ’n private matriekpartytjie einde Oktober op ’n wynplaas buite Stellenbosch gehou is. Leerlinge van kleur was na bewering uitgesluit.

Die gemoedere het laat Vrydagoggend reeds begin opvlam toe die betogers sowat drie blokke van die skool by die kruising van Frans Conradie-rylaan en Paradysstraat voorgekeer is.

Die EFF het daarop aangedring dat die hele groep, of minstens 500 van hulle, na die ingang van die skool kan beweeg. Daar wou hul leiers hulle toespreek.

Die polisie het aanvanklik ingestem dat 500 mense deurgelaat word, maar van plan verander toe die EFF-lede oproerig geraak en dreigend opgetree het. Die polisie het toe lemmetjiesdraad uitgerol en die gebied afgesper en die mense met traanrook en waterkanonne onder beheer probeer bring.

Die EFF het daarna by die lemmetjiesdraad saamgedrom en toesprake vanaf ’n platform op die kruising van dié twee strate gehou.

Melikhaya Xego, provinsiale sekretaris, het gesê daar is nog baie skole in die Wes-Kaap waar rassisme hoogty vier.

Die EFF gaan hulle almal besoek, het hy gesê. Hy het verwys na onder meer die Laerskool en die Hoërskool Jan van Riebeeck en die Rhodes High School, en sê hulle gaan daardie skole toemaak vir solank as wat die kinders van swart mense verdruk word.

Marshall Dlamini, EFF-parlementslid, het gesê die EFF gee die skool sewe dae om alle onderwysers en lede van die beheerliggaam “wat betrokke was by die organisering van daardie matriekpartytjie” te verwyder.

“Indien nie, sal die skool die EFF se permanente tuiste word,” het Dlamini gesê.

’n Man in ’n T-hemp met die woorde “Create, not hate,” het man-alleen ’n groep EFF-ondersteuners gekonfronteer en gesê dat hulle “nie God se wil uitleef nie”.

Die man is deur EFF-lede aangerand en is met ’n bebloede gesig deur die polisie in hegtenis geneem. Skermutselinge het ontstaan en die polisie het skokgranate en traanrook gebruik om die mense uiteen te jaag.

Klippe is na die wetstoepassers en die media gegooi en minstens vyf mense is op die toneel vir skok behandel.

In die chaos het die groepe begin uitmekaar beweeg en ’n groep EFF-ondersteuners het van Paradysstraat na die Ou Paarlpad beweeg en amok gemaak.

Eers is die poskantoor met klippe bestook en betogers het die vensters van minstens vier motors wat by die Hyundai-handelaar geparkeer was, stukkend geslaan.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het Vrydag die voorvalle van vandalisme bevestig en gesê die polisie was Vrydagmiddag laat steeds op die toneel.

Sover vasgestel kon word, is niemand ernstig beseer nie.

Ek wil ook die inwoners van Brackenfell bedank dat hulle gehoor gegee het om die gebied te vermy en die owerhede toe te laat om hul werk te doen. Dit was die verantwoordelike ding om te doen.

Die Cape Party, ’n politieke party, was by die betoging, asook eerw. Chris Nissen van die Menseregtekommissie, wat die beweerde rassisme by die skool ondersoek.

“Ek wil die polisie en wetstoepassers bedank vir hul professionele bestuur van die protesoptog deur te sorg dat die voorwaardes van die byeenkoms toegepas word en dat die skool, sy leerlinge en die onderwysers beskerm word,” het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Vrydag in ’n verklaring gesê.

“Ek wil ook die inwoners van Brackenfell bedank dat hulle gehoor gegee het om die gebied te vermy en die owerhede toe te laat om hul werk te doen. Dit was die verantwoordelike ding om te doen.”

Hy het gesê die EFF het nie die ooreenkoms nagekom wat hy met die stad aangegaan het ten opsigte van die permit wat vir die betoging uitgereik is nie. “Dit is onaanvaarbaar. Dit nadat die voorwaardes net Donderdag weer op ’n vergadering met alle rolspelers bevestig is.

“Soos ek verlede Maandag gesê het, moet geweldpleging, ongeag wie hulle daaraan skuldig maak, tot inhegtenisnemings en vervolgings lei. Geweld en intimidasie is inderdaad nooit die antwoord nie.

“Nadat ek vandag se beeldmateriaal gekyk het, is ek ook baie bekommerd daaroor dat die EFF-lede en -leiers ’n algehele minagting vir die Covid-19-regulasies getoon het. Die meeste lede wat die optog bygewoon het, het nie maskers gedra nie en kon nie ’n veilige afstand handhaaf nie.

“Die totale aantal EFF-lede wat teenwoordig was, meer as 2 000, het ook die beperking van 500 mense op buitelug-byeenkomste ingevolge die regulasies van die Wet op Rampbestuur ver oorskry.

“Dit het ook plaasgevind op dieselfde tyd as wat die Kaapse metro ’n merkbare toename in Covid-19-gevalle waarneem. Ons verwag dat daar ondersoeke sal wees na hierdie optrede, aangesien hierdie betoging nou ’n groot super-verspreider kan wees.”

’n EFF-lid hou ’n gholfstok omhoog terwyl hy oor die nat pad loop. Foto: Adrian de Kock

Die skade wat aan die poskantoor aangerig is, is as “omvangryk” beskryf. “Die Poskantoor veroordeel die vandalisme aan die Brackenfell-poskantoor ten sterkste,” sê Johan Kruger, die woordvoerder.

“Die skade sal so spoedig moontlik herstel word om seker te maak dat die poskantoor steeds ’n diens aan die gemeenskap van Brackenfell kan lewer.”

Ds. Guillaume Smit, voorsitter van die skoolbeheerliggaam en predikant van die NG kerk in Brackenfell-Wes, het voor die skool gesê sommige van die ouers word geviktimiseer oor die bewerings van rassisme en het selfs doodsdreigemente ontvang.

Jack Markovitz (21) het opslae gemaak as EFF-ondersteuner omdat sy oupa, Leon Markovitz, ’n bekende DA-LUR in die provinsie is.

Hy het gesê: “Ons (die EFF) is hier om die gesprek te begin oor die oordrag van rykdom en grond – wat oor geslagte oorgedra is – aan die histories benadeelde bevolking van Azania.”

Markovitz, glo ’n student van die Universiteit van Kaapstad, het gesê hy is ’n lid van die EFF sedert 18-jarige ouderdom en meen “die EFF het ’n boodskap wat aansluit by onderwerpe waaroor die jonger geslag praat”.

Die agt EFF-betogers en die lid van die publiek wat in hegtenis geneem is, sal in die hof verskyn sodra hul aangekla is.

EFF-lede hou pale en ander voorwerpe soos swepe omhoog. Foto: Adrian de Kock
Die polisie hou die betogers weg met lemmetjiesdraad. Foto: Adrian de Kock
Die skade aan die Brackenfell-poskantoor. Foto: Verskaf
Twee van die voertuie van die Hyundai-handelaar in Brackenfell wat deur betogers beskadig is. Foto: Twitter/I’m not your friend
Van die rubberkoeëls wat op die toneel opgetel is. Foto: Ané van Zyl
Marshall Dlamini, EFF-parlementslid, spreek die skare toe Foto: Adrian de Kock
Jack Markovitz (21) Foto: Adrian de Kock
Die EFF-lede drom saam om na die toesprake van hul leiers te luister. Foto: Adrian de Kock

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.