Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 9 vas nadat koedoe lewend geslag is

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat beeldmateriaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Nege mense gaan aangekla word in verband met ’n voorval waarin ’n groep mense ’n koedoebul met pype slaan en lewend afslag.

In ’n video van die voorval in die Oos-Kaap word gesien hoe minstens vier mans ’n koedoebul wat op die grond lê met pype slaan en met ’n mes steek terwyl drie honde aan die spartelende dier se agterpote byt.

Die voorval het oënskynlik vroeg in Maart langs ’n plaas by Newtown, net buite Fort Beaufort, gebeur.

Ncedo Lisani, woordvoerder van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, sê die polisie en die departement het Dinsdag tien verdagtes in hegtenis geneem weens die onwettige jag van koedoes.

Na wat verneem word sal een van die tien verdagtes as staatsgetuie optree.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê agt mans en een vrou sal weens onwettige jag in die landdroshof in Fort Beaufort verskyn.

Die polisie is glo op soek na nog drie mense wat by die voorval betrek word.

Volgens ’n betroubare bron het die verdagtes die betrokke koedoe met jaghonde op ’n nabygeleë plaas gejag.

Die koedoe is gejaag totdat hy langs die grensdraad van die plaas platgetrek is, waarna die mans en honde op hom toegesak het. Die koedoe is oopsny terwyl hy nog geleef het.

André Baartman van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se wildeenheid, het die inhegtenisnemings verwelkom.

Hy het die beeldmateriaal van die koedoe beskryf as van die ergste aanvalle wat hy nog gesien het.

“In ons werk sien ons daagliks baie wrede sake, maar ek moet sê dié koedoe-video is een van die mees barbaarse en ontstellende video’s wat ek al gesien het.”

Hy sê die DBV is gekant teen enige vorm van dieremishandeling en hulle sal opstaan teen mishandeling, ongeag van hoe groot of klein die saak is.

“Ons verstaan die verdagtes sal kragtens die Wet op Natuurbewaring aangekla word, maar ons sal graag wil sien dat hulle ook kragtens die Dierebeskermingswet aangekla word,” sê Baartman.

Die departement het volgens Baartman gesê daar word oorweeg om die Dierebeskermingswet as sekondêre aanklag by te voeg. Die finale besluit berus egter by die nasionale vervolgingsgesag.

’n Skermgreep van die video waarin ’n spartelende koedoebul met pype geslaan word. Foto: Skermgreep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.