Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Advokaat se trekklavier gee hoop in Covid-saal

“My pragtige dad, Lukas du Preez – wat ’n voorbeeld van ware liefde. Ons weet Mamma het gehoor – saam met soveel ander mense wat dit nodig het.”

Só skryf Lurinda du Preez-Fourie op sosiale media oor haar pa, adv. Lukas du Preez, wat die afgelope week buite die Covid-19-saal van die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai vir sy vrou, Marinda, liedere speel.

Dié oud-Gautengers is vanjaar 44 jaar getroud. Hy noem haar sy “rots in die lewe” en die “doedie” saam met wie hy al die wêreld platgereis het.

Du Preez vertrek soggens douvoordag uit die Welgelegen-landgoed in George. By die hospitaal plak hy die lys van liedere met wondergom teen ’n pilaar. Om 07:20 begin hy speel.

“You Raise Me Up”, “Hoe groot is U”, “Amazing Grace”, – 21 liedere altesaam. Dan sluit hy af hy met “Auld Lang Syne”.

Marinda is ’n vegter, daarvan getuig haar tien Comrades-medaljes!

Terwyl Du Preez die afgelope Donderdag vir “Marinda en almal in die Covid-saal” gespeel het, het ’n groepie mense in die oggendkoue saam kom bid, afgeëts teen die grys lug.

Du Preez het aan Rapport gesê sy vrou is al meer as tien dae hier en kry suurstof. Uit moedeloosheid en verlange het hy sy trekklavier gevat en vir haar en die ander pasiënte gaan speel. Hy glo die liedere sal ’n verskil maak, warmte en hoop bring.

“Die kern is gebed. Dis waar ons krag lê.”

Sy dogter skryf verder by ’n video van haar spelende pa: “Dié is hoe ware liefde lyk. My pa, Lukas du Preez, wat vir my mamma, Marinda du Preez, in die hospitaal speel. Sy veg. Elke dag. Sy het elke liedjie gehoor.”

’n Pasiënt wat saam met Marinda in die Covid-19-saal lê, Theron (Tolla) Strauss, het aan Rapport gesê: “Ons het die oom hoor speel. Dit was baie mooi. Die mense het so stil geraak en die heimwee het maar gevloei.

Adv. Lukas en Marinda du Preez is 44 jaar getroud.

“Ons hoop hy kom weer.”

Charlotte Barnard, wat by ’n chirurg se spreekkamer langs die Covid-19-saal werk, se video van die spelende Du Preez het groot reaksie op sosiale media ontlok. Sy het self verlede Sondag ’n oom aan die dood afgestaan en nog ’n familielid lê ook in die betrokke saal. Barnard sê sy was moedeloos en wou nie eers soggens opstaan nie.

“Toe verskyn die oom . . . Die Here het my vraag beantwoord en die oom op my pad gesit.”

Mense stuur van oral in die wêreld, veral uit Australië en Nieu-Seeland, vir hom boodskappe van bemoediging.

Een van hulle, Jolene Chidrawi, skryf by die video: “Liewe oom. Ons ken oom nie, maar het op hierdie pragtige pos afgekom. Word wyd geshare hier in Nieu-Seeland. Ons almal bid saam met oom vir ’n spoedige herstel van oom se vrou. Oom het soveel mense se harte aangeraak met daardie gebaar van totale liefde en toewyding.”

Gister het Du Preez aan Rapportgesê dit gaan sedert Vrydag baie beter met sy vrou.

“Dankie vir almal se support. Marinda is ’n vegter, daarvan getuig haar tien Comrades-medaljes! Die droom van geloofsenergie is hoekom ek my poginkie volhou.”

Meer oor:  Lukas Du Preez  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.