Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Aktivis ryloop na Boshof om boere te kom help

Petrus Sitho (39), ’n aktivis teen grondonteiening en plaasaanvalle, het Donderdagaand van Oos-Londen na Boshof geryloop om boere in die brandgeteisterde gebied by te staan.

Sitho is in die nuus nadat hy vroeër vandeesweek afgedank is omdat hy Vrydag boere in Senekal ondersteun en teenoor plaasaanvalle uitgevaar het. Hy het toe die boere, simbolies met boeie aan sy hande en voete om hul stryd te beklemtoon, toegespreek en gesê boere word al 26 jaar lank gevangene gehou deur ’n regering wat nie omgee nie.

Sitho se verhaal het Suid-Afrikaners aangegryp en die vakbond Solidariteit het hom Woensdagaand gebel om regshulp aan hom te bied nadat hy afgedank is.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê Sitho behoort ’n medalje te kry vir wat hy gedoen het en dat hy 100% binne sy demokratiese reg opgetree het om te protesteer.

Toe Netwerk24 Sitho Vrydagoggend bel, het hy opgewonde vertel hy het in Boshof aangekom.

Petrus Sitho het Vrydag simbolies in boeie met boere gepraat oor plaasaanvalle. Foto: Anena Burger

“Ek het gisteraand van Oos-Londen na Boshof geryloop. Ek het by ’n vulstasie geslaap. Ek het gekom om die boere te help.”

Sitho sê hy kon nie meer die hartverskeurende beelde van die verwoestende brande aanskou nie en het besluit hy moet die boere gaan help.

“Ek het gekom na my mense toe. Ek help om skenkings in te samel en om by die brande te help.”

Sitho het ook Vrydagoggend ’n video gemaak wat hy aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het.

In die video vra hy die president om na Boshof te kom en self die verwoesting te aanskou.

“Meneer, die president, kom hierheen. Ek is hier by Boshof om ons boere te ondersteun. Ek het nodig dat jy met ons moet praat mnr. President. Praat met my – asseblief. Ek smeek jou, mnr. President, praat met my. Ek is hier om ons boere te beskerm. Ek gaan twee maande hier bly. Kom hierheen. As jy nie weet waar Boshof is nie, vra die adjunkpresident, vra enigeen, hulle sal jou die pad wys na Boshof, want alles hier is besig om te brand.”

Sitho sê hy en Franswa Pietersen, ’n inwoner van Touwsrivier in die Wes-Kaap wat ook uitgesproke is teenoor plaasaanvalle en die boere in Senekal ondersteun het, het reeds teen Vrydagoggend vyf vragte voer gereël wat op pad na Boshof is.

Hy is baie dankbaar vir die ondersteuning en die baie mense wat hulp aangebied het nadat hy afgedank is.

“Ek wil graag dankie sê vir die geweldige ondersteuning. Dit spoor my net verder aan om goed te doen.”

Lesers wat hulp en steun aan Sitho wil bied kan aan hom skryf by petrussitho@gmail.com.

Meer oor:  Grondonteiening  |  Aktivis  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.