Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: As ’n meisie uit die skool wegloop

K (15) van Bloemfontein bly die meeste dae weg van die skool. Boelies wat haar dreig en die omstandighede in haar huis is vir haar te veel. En toe ’n polisiebeampte wat haar ma gekry het om haar te help begin om foto’s van haar te eis, het haar lewe in duie gestort. Charles Smith het ’n paar uur saam met haar deurgebring om haar storie te hoor.

K huil nie. Sy lag ook nie.

Sy kyk na jou met haar mooi, hartseer oë as sy vertel hoe sy wegbly van skool en hoe sy vir winkeldiefstal aangekeer is.

K is 15 en in gr. 9 aan ’n hoërskool in Bloemfontein, maar was nog net drie dae hierdie kwartaal in die klas.

Elke oggend stap sy in haar skoolklere en met haar tas oor die skouer weg van hul woonstel.

Maar in plaas van skool toe, stap sy weg, langs die spoorlyn af.

K (15) op die spoorlyn deur Bloemfontein. Dit is hier waar sy die meeste dae kom sit as sy nie skool toe gaan nie. Foto: Charles Smith
K (15) op 'n voetbrug oor die spoorlyn deur Bloemfontein. Sy kom hang baie keer hier uit om weg te kom van die omstandighede in haar huis en van die skool waar sy onder boelies deurgeloop het. Foto: Charles Smith

Sy sit vir ure elke dag in die veld langs die spoor en teken op haar foon. Of luister na musiek oor haar oorfone.

Hier is sy ver weg van die boelies in die skool.

“Kry ons in die parkie waar ons gaan fight, dan **** ek jou,” lui ’n WhatsApp-boodskap. ’n Eertydse vriend voer ’n smeerveldtog teen haar. Sy het amper geen vriende meer in die skool nie.

“Dis omdat ek en hy nie meer saam kon wees nie. Hy het gesê hy en ’n paar kinders wil my slaan.”

Van hier langs die spoor af kan sy net-net die woonstel sien waar sy, haar werklose ma en sussie probeer oorleef. Haar alkoholis-pa trou glo binnekort weer. Hulle het ’n slegte verhouding.

Op pad na lig en hoop. K (15) stap die trappe op na hul woonstel, waar hulle dalk eersdaags weer moet trek. Hulle moes al 11 keer in 'n jaar trek omdat haar werklose ma nie die huur kan betaal nie. Die omstandighede het haar so teneergedruk gemaak dat sy nie skool toe gaan nie en met sport opgehou het. Maar welsynwerkers en beraders sal haar help. Foto: Charles Smith

Die laaste jaar alleen het hulle 11 keer getrek. Elke keer moet haar ma ’n nuwe blyplek kry as sy nie die vorige een kan betaal nie.

Nou, vandag, weet haar ma ook nie waar sy Augustus se huurgeld vandaan gaan kry nie.

K ken die storie.

“Ek en my ma baklei heeltyd. Ek kan nie glo sy werk vir ’n vrou wat haar baie keer nie betaal nie. Sy sê dit is steeds beter as om nie werk te hê nie . . .”

Sy bly lank stil en kyk teen die leë spoorlyn af. Hier is net tekens van boemelaars en bosslapers. Geroeste blikke en ou skoene lê rond.

In die verblindende sonlig word die lus vir skool, huis, lewe uit haar gedreineer.

Hoekom kom sit sy hier, in die middel van nêrens?

“Want ek voel nie welkom by die skool of die huis nie. Dit voel vir my of ek nie daar behoort nie. By die huis voel dit ek word sleggesê. Kom ek by die skool, word ek ook sleggesê. So, ek wil net peace en quiet hê,” sê sy.

Een oggend terwyl sy stokkies gedraai het, het sy ’n paar seuns gekry. ’n Jong man het hulle oortuig om by ’n groot supermark te gaan steel. Hulle het hul skooltasse leeg gemaak en kos en klere ingegooi, maar is deur die wagte betrap.

Sy het onlangs in die hof verskyn en ’n waarskuwing gekry.

Nee, sê K. Sy sal dit nooit weer doen nie.

Maar haar oë is leeg.

Sy het moed opgegee om vir mense hulp te vra. Mense het belowe, maar niks het daarvan gekom nie.

Haar ma het drie jaar gelede uit radeloosheid ’n polisiebeampte se hulp gevra toe sy in die moeilikheid was. Sy het foto’s vir iemand gestuur wat haar afgedreig het, vermoedelik ’n Nigeriër met ’n vals profiel.

Hy het haar foon gevat en video’s en foto’s afgelaai.

En nou toe haar ma agterkom sy draai stokkies omdat sy geboelie word, het haar ma weer die polisiebeampte genader.

Tot haar skok het sy agtergekom hy begin haar ook afdreig vir video’s en foto’s. Haar enigste hoop het haar verraai.

K (15) in ’n parkie naby hul woonstel waar skoolkinders baie keer kom vir groepgevegte. Een boelie wou haar hier slaan. Foto: Charles Smith

Volgens ’n vriendin van die gesin het hy gelag toe hulle gedreig het om ’n klag by die polisie in te dien.

“Hy het gesê hy sal net die dossier laat wegraak.”

Hulle is ook bekommerd oor K se veiligheid.

Hier waar K langs die spoorlyn sit, is die lewe uitsigloos genoeg. Sy het atletiek, netbal en selfs rugby beoefen, maar alle sport gelos.

Sy wou volgende jaar skool opskop en met aandskool begin en ’n werk kry om haar ma te help om vir hulle te sorg.

Dit is al plan waaraan sy kan dink.

Hoe sien sy haar lewe vorentoe?

“Ek is net bang wat vir my voorkom en waar die lewe my eendag druk.”

Wat wil sy eendag word?

Dit voel net vir my of ek nie hier behoort nie

“Ek het geen idee nie.”

Is sy gelukkig?

“Nee. Ek het te veel stres. Dit voel net vir my of ek nie hier behoort nie.”

Waar is “hier”?

“Op die aarde.”

Maar hier, nou op die spoorlyn, is daar hoop. Die eerste keer sal ’n welsynwerker na haar luister en kan sy eersdaags berading kry.

Dit gee bietjie hoop. Die volgende dag is K weer skool toe.

“Skool was beter as wat ek gedink het dit sal wees . . .” lui haar boodskap.

Jip, sy gaan weer netbal begin speel, belowe sy.

Daar is ’n bietjie lig aan die einde van die donker tonnel waardeur K se spoorlyn loop.

Cynthia du Toit, welsynsbestuurder van Childline Vrystaat, sal self K vroeg volgende week besoek. Sy sê die belangrikste vir kinders wat hulp soek, is dat dit nooit te laat is om te praat nie.

“Daar is altyd iemand met ’n oor wat sal luister en wat sal help.”

Enige kind onder 18 jaar wat in nood is, kan Childline Vrystaat se noodnommer by 080 005 5555 bel.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kind  |  Childline
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.