Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Beamptes geskors ná video van ‘aanranding’

Die proses het begin om twee vrywilligers van die Kaapstad-metro se wetstoepassingseenheid te skors nadat ’n video aan die lig gekom het waarin hulle ’n man in Westgate, Mitchells Plain, in hegtenis neem.

In die video kan gesien word hoe Ridwaan Nero en Rizaar Davids, albei in gewone klere, probeer om Jason Anderson (25) in hegtenis te neem.

Anderson weier om geboei te word, terwyl Joshua Welman, een van sy vriende, die stoeiery met sy selfoon afneem.

bakleiery
Ridwaan Nero (regs) hou Jason Anderson (in wit) vas terwyl hy hom in hegtenis probeer neem.

Welman beweer in die video dat die twee polisielede Anderson aanrand, asook sy vriende en ’n vriendin wat die inhegtenisneming probeer keer.

Volgens Welman het die beamptes sy vriend op ’n klag van aanranding in hegtenis geneem.

In die video kan ook gesien word hoe Nero se wapen in die stoeiery op die grond val. Die wapen was oënskynlik agter sy rug by sy belt ingedruk en nie in ’n holster nie. Volgens stemboodskappe in Netwerk24 se besit het die wapen se magasyn na bewering in die gestoei uitgeval en die beamptes kon dit ná die inhegtenisneming nie kry nie.

Rizaar Davids (links) help om Anderson vas te hou terwyl omstanders toekyk.

Volgens Welman is Anderson oornag in die Mitchells Plain-polisiekantoor aangehou, maar die saak is laat vaar en hy is vrygelaat.

Nero en Davids het Welman ’n boete van R1 000 vir die verbreking van die inperkingsregulasies opgelê.

Richard Bosman, hoof van veiligheid en sekerheid in die metro, sê nadat die video Woensdagmiddag onder hul aandag gebring is, is ’n voorlopige ondersoek gedoen en die skorsingsproses van Nero en Davids het begin.

“Die metro duld nie sulke gedrag van sy personeel nie,” sê hy.

Die voorval is by die kantoor van Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, aangemeld nadat die video op sosiale media versprei is en meer as 6 500 keer gekyk is.

Vrywillige wetstoepassers soos Nero en Davids is eers deel van hul gemeenskapspolisiëringsforums, waarna hul vir die metro begin werk. Die vrywilligers kry opleiding en moet ’n register teken wanneer hulle aan diens kom.

Permanente wetstoepassingsbeamptes hou oor hulle toesig. Hulle moet ook in uniform wees wanneer hulle diens doen.

Vrae aan Bosman oor of die twee beamptes gedurende die voorval aan diens was, is nie beantwoord nie.

Pogings om kommentaar te kry by Nero en Davids was onsuksesvol.

Meer oor:  Mitchells Plain  |  Bakleiery  |  Kaapstad-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.