Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Beamptes stop verkeer op N2 sodat BMW’s kan ‘spin’

’n Voorval waarin provinsiale verkeersbeamptes die N2 buite Grabouw Sondag kort ná 09:40 vir verkeer gesluit en motoriste toegelaat het om hul wiele op die hoofweg te “spin”, word ondersoek.

In kort video’s kan gesien word hoe ’n verkeersbeampte voertuie wat uit die rigting van Kaapstad na Caledon of die Overberg op pad is, laat stilstaan. Nog ’n verkeersbeampte beheer verkeer wat vanuit Grabouw by die N2 wil aansluit. Die twee verkeersbeamptes se provinsiale verkeersvoertuie is ook in die video’s sigbaar.

In die eerste deel van die eerste video “spin” die bestuurder van ’n wit BMW sy wiele op die teer. Langs die pad staan iemand met ’n videokamera, besig om die motortoertjies op te neem. Mense neem foto’s. Kort op die wit BMW se hakke is ’n rooi BMW.

Ook hy “spin” sy wiele en maak esse op die teer. Toeskouers agter ’n heining klap hande en gee hul ondersteuning luidkeels te kenne. Voertuie wat gestop is, kry weer kans om te ry.

In die tweede video kan gesien word hoe ’n opgewonde verkeersbeampte haar hande in die lug rol. “Hoppa,” skreeu ’n man en vra haar om die verkeer weer te stop. Sy antwoord: “Weer?” Hy antwoord: “Ja, ons het nog twee karre vir jou.”

Die verkeer word weer gestop en ’n wit BMW en ’n rooi BMW ry die teer weer aan die brand.

In die derde video kan gesien word hoe ’n blou afslaankapmotor ook esse op die N2 maak terwyl die verkeer agter hulle moet wag.

Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, was Maandag kwaad oor die video’s.

“Hier kom definitief ’n ondersoek,” het hy gesê.

“Hoe kan hulle sulke goed doen en toelaat? Die mense beskadig ons paaie. Alles wat ons oor die jare opgebou het, is binne ’n paar minute vertrap.”

Hoe kan hulle sulke goed doen en toelaat? Die mense beskadig ons paaie. Alles wat ons oor die jare opgebou het, is binne ’n paar minute vertrap.

Die betrokke verkeersbeamptes sal beslis verantwoording moet doen, sê Africa.

Donald Grant, Wes-Kaapse LUR vir vervoer, sê hy is geskok.

Stappe gaan beslis gedoen word, sê hy. “Ons sal dit hanteer.”

Adv. Kyle Reinecke, adjunkhoofdirekteur van vervoer in die Wes-Kaap, sê hy het die video’s gesien en opdrag gegee dat ondersoek onmiddellik ingestel word.

Volgens Reinecke sal die ondersoek voorkeur kry en sodra dit afgehandel is, sal daar onmiddellik en daadwerklik opgetree word teen verkeersbeamptes wat onbehoorlik opgetree het.

Meer oor:  N2  |  Grabouw  |  Verkeersbeamptes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.