Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Beseerde Koben ‘dink nie meer aan verlam wees’

Die tienerseun van Louis Trichardt in Limpopo wat sy nek in Mei in ’n rugbywedstryd beseer het, sê daar is “regtig ’n God”.

Koben Hofmeyr (16) se toestand het sewe weke ná die besering aan drie van nekwerwels soveel verbeter dat hy sonder hulp regop kan sit. Boonop beweeg hy sy tone aan albei voete.

“Ek kon ná die ongeluk niks beweeg het nie, nou beweeg ek my vingers en ek dink nie eers meer aan die verlamming nie,” sê Koben op ’n video wat sy pa, Trompie, gedeel het.

Koben ontvang steeds rehabilitasie in die Mediclinic Muelmed in Pretoria, maar naweke kan hy by familie gaan kuier.

Hy is Saterdag in ’n rolstoel na ’n winkelsentrum en het soos ’n wafferse sokkerspeler ’n bal met sy kop weggebons.

Annelize Hofmeyr by haar seun, Koben (16), kort nadat hy sy nek beseer het. Foto: VERSKAF
Aninke Hofmeyr (17) by haar broer, Koben (16), van Louis Trichardt. Foto: VERSKAF

“Ek sit soos ’n gewone kind, ek dink nie eers meer daaraan dat ek verlam is nie,” sê Koben.

Annelize Hofmeyr, sy ma, sê hy moet onthou “hy is nie verlam nie”. Hulle hou aan glo dis ’n kwessie van tyd voor hy heeltemal herstel. Koben kon danksy strawwe oefening om sy spiere sterker te maak sowat twee weke gelede homself uit sy rolstoel tot bo-op ’n bed help. Hy het verlede Maandag (16 Julie) nog ’n mylpaal bereik toe hy vir die eerste keer sedert die beserings sy eie skoene kon aantrek.

Sy ouers het Saterdag en Sondag video’s met familie, vriende en van Koben se medeleerlinge gedeel waar hy sy tone aan albei voete kan beweeg.

“Ek wil net sê as jy bid . . . daar is rêrig ’n God,” se Koben.

Koben het as kaptein van die Hoërskool Louis Trichardt se 0.16-rugbyspan op Saterdag 19 Mei uitgedraf teen die Hoërskool Warmbad in Bela-Bela toe hy beseer is.

Hy het sy C4- en C5-nekwerwels beseer en sy C6-nekwerwel is ontwrig.

Koben het kort ná die besering geen gevoel van sy bors af ondertoe gehad nie. Hy moes twee operasies in die Life Groenkloof-hospitaal ondergaan.

Sy toestand het die afgelope sewe weke met elke dag se intense rehabilitasie so verbeter dat hy vol moed vir die toekoms is.

“Ek weet ek gaan heeltemal regkom,” sê hy.

Dit is onduidelik vir presies hoe lank Koben nog in die rehabilitasiesentrum sal moet aansterk voordat hy kan huis toe gaan.

Die Hoërskool Louis Trichardt se eerste rugbyspan, oftewel die Wit Leeus, het hul oorwinning in Saterdag se wedstryd teen Curro Heuwelkruin in Polokwane aan Koben opgedra.

Die Wit Leeus het met 36 teenoor 15 punte geseëvier in die wedstryd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.