Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Betogings buite Uniegebou teen korrupsie

“Ons, die mense van Suid-Afrika, het vertroue in ons regering verloor.”

Dit was die beweegrede vir Suid-Afrikaners van sover as Bela-Bela in Limpopo, Cullinan en Centurion wat Saterdag as deel van die Move One Million-veldtog by die Uniegebou in Pretoria standpunt ingeneem het teen onder meer korrupsie, geslagsgeweld, plaasaanvalle en bedrog met Covid-19-geld.

Hordes mense het Saterdag as deel van die Move One Million-veldtog na die beeld van Nelson Mandela by die Uniegebou in Pretoria gestap om hul stemme dik te maak teen korrupsie. Foto: Quintus van Rooijen
Hordes mense het Saterdag as deel van die Move One Million-veldtog na die beeld van Nelson Mandela by die Uniegebou in Pretoria gestap om hul stemme dik te maak teen korrupsie. Foto: Quintus van Rooijen

Ondersteuners het nie net landwyd soortgelyke bewusmakingsveldtogte gehou nie, maar dit het ook steun gekry vanuit meer as 16 lande, onder meer Dubai, Portugal, Mexiko, Italië, Switserland, Nieu-Seeland en Australië.

Elizabeth Charleston van Nieu-Seeland het Vrydag op die groep se Facebook-blad geskryf dit is om mense bewus te maak van die “gruweldade” in Suid-Afrika. “Ons staan saam en verhef ons stem dat dinge in Suid-Afrika moet verander en die president van hierdie pragtige land moet erken dat gewelddadige en wrede plaasaanvalle voorkom.”

Anel Enslin, veldtogbestuurder vir Gauteng, het Saterdag gesê hul oorsese steun kom meestal oud-Suid-Afrikaners en mense wat familie hier het.

“Ons is verskeie organisasies, soos #ShutSADown, #OurVoices, #SaveOurJobs, #ToursimMatters wat hier verenig,” het sy verduidelik.

Suid-Afrikaners het dit Saterdag duidelik gemaak dat dit tyd is vir ’n verandering in die land. Foto: Hanti Otto

Die groep het by Venningpark in Arcadia, Pretoria, met wapperende wit- en landsvlae bymekaargekom.

Hulle het gesels in ’n mengelmoes van al 11 landstale, totdat die liedjie “Jerusalema” op ’n karradio begin speel het.

’n Paar het nog effe onseker heupe geswaai, toe tree Kgothatso Moloto van Voice It In Action (VIIC), ’n niewinsgewende organisasie teen geweld teen vroue en kinders, na vore om die pas aan te gee.

Dit het sommer ekstra lewe in die groep geblaas voordat hulle, gewapen met plakkate wat lees “Stand up to corruption”, “We are one nation”, “#DirectElections”, “Jobs save lives” en “United we stand”, die roete na die Uniegebou aangepak het.

Moeg vir geweld en korrupsie. Foto: Quintus van Rooijen

By die standbeeld van Nelson Mandela het hulle uitgeroep dat alle lewens saakmaak, dat geweld en rassisme moet stop.

“Ons kinders verdien ’n toekoms!” het iemand bygevoeg.

Enslin het aan die ondersteuners gesê die beweging staan vir vier dinge: eenheid, vrede, teenkorrupsie en liefde.

“Ons staan op as een en laat ons stemme hoor vir verandering in die land.

“Hierdie is net die begin. Ons gaan vir die volgende paar maande aanhou bewusmakingsveldtogte hou, want die wêreld moet dit sien. Genoeg is genoeg,” het sy gesê.

Die Move One Million-veldtog is ’n versameling van verskeie groepe wat saamstaan teen onder meer korrupsie en geweld. Foto: Hanti Otto

Daarna is ’n minuut van stilte gehou, wat sommige ook gebruik het om vir die land te bid.

Blomme, ballonne en kruise, alles wit vir vrede, is toe by die standbeeld neergesit.

Luidens ’n verklaring van die Move One Million-beweging, staan hulle op teen leiers wat nie lei nie, en weier om verantwoordelikheid te neem.

“Hulle behandel ons neerbuigend, pleks van om ons te beskerm. Wat begin het as ’n redelike benadering om Suid-Afrika met ’n inperking veilig te hou, het verander in ’n geplunder met miljarde wat verdwyn het.

“Genoeg is genoeg. Ons verwerp die toenemende geweldsmisdade en geslagsgeweld. Ons verwerp die ras-lokaas en verdelende uitsprake,” lui die verklaring.

Ondersteuners van die Move One Million-veldtog kom by Venningpark in Pretoria bymekaar voordat hulle na die Uniegebou stap. Foto: Hanti Otto

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.