Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer kritiek ná hy erg brand in gestigte veldbrand in Vrystaat

’n Boer wat Maandagmiddag gehelp het om die vlamme van ’n verwoestende veldbrand by Hertzogville in die Vrystaat onder bedwang te bring, is erg gebrand en tans in ’n kritieke toestand in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein. Hy word behandel vir derdegraadse en tweedegraadse brandwonde, asook rookinaseming.

Tewie Nel (28) was een van talle boere wat probeer het om die vlamme te keer nadat betogers moles gemaak het deur buitebande, asook ’n stuk veld, buite die dorp aan die brand te steek.

Volgens Vrystaat Landbou is sowat 100 000 ha reeds teen Dinsdagoggend in die distrikte Hertzogville, Boshof, Dealesville en Bultfontein verwoes. Die organisasie het ’n noodfonds begin om voer en diesel vir die boere in te samel.

Boere probeer Dinsdagoggend hier die vlamme van 'n wegholveldbrand keer wat oor groot dele van die Wes-Vrystaat woed. Verskeie brande het minstens 100 000 ha weiding tussen Boshof, Hertzogville en Bultfontein verwoes. Foto: Mlungisi Louw
Boere probeer Dinsdagoggend hier die vlamme van 'n wegholveldbrand keer wat oor groot dele van die Wes-Vrystaat woed. Verskeie brande het minstens 100 000 ha weiding tussen Boshof, Hertzogville en Bultfontein verwoes. Foto: Mlungisi Louw

Gerhard, Tewie se pa wat ook boer en voorheen ’n ortopeed in dieselfde hospitaal was, sê sy seun het derdegraadse brandwonde oor 40% van sy liggaam opgedoen.

“Albei sy hande en arms, albei bene, sy rug, sy en maag het gebrand en hy het tweedegraadse brandwonde op sy gesig opgedoen.”

“Hy het ook brandwonde met inaseming opgedoen en word daarom geventileer. Maar hy verstaan as jy met hom praat en knik sy kop. Rosepark se neuro-intensiewe-afdeling se behandeling is onverbeterlik.”

Gerhard sê hy lê die brande voor die deur van die betogers.

“Dit is brandstigting in die ergste graad.”

Intussen is honderde stuks vee en wild al weens brandwonde van kant gemaak.

Dr. Nico Hendriks, die veearts op Hertzogville, sê 200 beeste moes op drie aangrensende plase doodgeskiet word omdat hul brandwonde te erg was. Nog ’n boer het 12 jong stoetbulle so verloor.

“Rooibokke, blesbokke, swartwildebeeste en meer as ’n duisend skape is op ander plase geskiet.”

Die verwoestende veldbrand Dinsdagoggend. Foto: Mlungisi Louw
Die verwoestende veldbrand Dinsdagoggend. Foto: Mlungisi Louw

’n Vragmotor was Dinsdag onderweg vir noodslagting met ’n vrag vol beeste wat in die brand beseer is. “Twintig het op pad daarheen gevrek. Die diere staan nie ’n kans nie en daarom moet ons hulle van kant maak.”

Hannes de Jager, ’n veiligheidskoördineerder in die landelike gebied en private spoorsnyer, sê die betogings buite die dorp is eers op ’n einde.

“Sestien mans het Dinsdag in die hof verskyn op klagte wat strek van openbare geweld en brandstigting.”

Dinsdagoggend net na middernag was daar ook brandstigting in ’n woonbuurt in die Tokologo-munisipaliteit, maar verder is dit kalm, sê hy.

Die VF Plus in die Vrystaat sê die skade wat die boeregemeenskap ly, is weens die mislukte ANC-regering en mislukte ingrypings van die provinsiale regering in die betrokke munisipaliteit. Dit sal daarom gepas wees dat die amptenare wat tot inwoners se ontevredenheid bygedra het, ook aan die pen ry.

Jan van Niekerk, Vrystaatse leier van die VF Plus, sê die party eis dat die provinsiale departement van samewerkende regering dringend by die Tokologo-munisipaliteit ingryp om die algehele gebrek aan dienslewering te beredder om enige verdere protesaksie hok te slaan.

Tewie Nel (28), 'n boer van Hertzogville, het erge brandwonde opgedoen in die veldbrand buite die dorp.

Die VF Plus het die saak verder gevoer deur ook ’n skrywe te rig aan die minister van landbou, Thoko Didiza, om finansiële bystand aan die landbougemeenskap te voorsien.

“Hierdie skade is die direkte gevolg van swak regering en dit is nie aanvaarbaar dat boere self, of hul versekering, daarvoor moet pa staan nie,” lui sy verklaring.

* Geldelike bydraes kan gemaak word aan Vrystaat Landbou se rampfonds by: Vrystaat Landbou, Absa-rekeningnommer: 470940670

Verwysing: RAMP+ u naam

* Voer- of brandstofskenkings is ook welkom daarvoor kan ’n e-pos aan elize@vslandbou.co.za gestuur word.

Meer oor:  Vrystaat Landbou  |  Tewie Nel  |  Hertzogville  |  Vrystaat  |  Boshof  |  Bultfontein  |  Dealesville  |  Veldbrande  |  Brand  |  Veldbrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.