Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Boer vermoor - ’n Gemeenskap in rou

Dit voel vir hom of sy pa net dorp toe is en of hy enige oomblik om die draai gaan kom en stilhou voor die plaashuis.

Alles is nog só onwerklik, sê een van die seuns van Moolman Meyer (67), die boer van Ermelo in Mpumalanga wat in die week vermoor is.

Doors Meyer was Saterdag deel van ’n groot groep mense wat saam met ’n groep motorfietsryers op sy plaas bymekaargekom vir ’n laaste huldeblyk aan Moolman.

“Ek weet nie of ek my op pad terug van Windhoek uitgehuil het nie, en of die werklikheid nog net nie ingesink het nie . . . dalk sal dit later,” sê Doors.

Past.TJ Maré, nasionale president en stigterslid van die 911 Riders (links), bid saam met Doors, een van Moolman Meyer (67) se seuns. Foto: Isabel Venter

Doors, ’n langafstandvragmotorbestuurder, was in Namibië toe hy die nuus kry dat sy pa vermis en toe later dood aangetref is op sy plaas, Waaihoek, sowat 40 km van Ermelo in die Sheepmoor-distrik.

“Niemand wou vir my sê wat het werklik gebeur met my pa nie,” sê Doors.

Hy het Woensdag, met sy aankoms in Suid-Afrika, uitgevind sy pa is met ’n panga doodgekap.

Moolman is Saterdag laas lewend gesien toe hy en twee werkers met ’n trekker en sleepwa hout in die veld gaan oplaai het.

Meyer se lyk is Woensdagoggend ná ’n groot soektog op sy plaas sowat 800 m van die opstal langs sy trekker gekry.

Hy het verskeie diep sny- en kapwonde oor sy kop, lyf en arms gehad.

Die polisie sukkel nog om die werkers wat saam met hom was, op te spoor vir ondervraging. Hulle is vermoedelik van eSwatini (Swaziland) en het intussen spoorloos verdwyn.

’n Vrou, vermoedelik Moolman se huishulp, is vroeër deur die polisie ondervra, maar is intussen weer laat gaan.

’n Gemeenskap in rou

“Oom Meyer was ’n stil, eenkant-mens, maar ons was lief vir hom. Dit is hoekom ons hier is vandag,” het Johan van der Merwe, ’n boer van die omgewing gesê.

Van der Merwe was ook deel van die 911 Riders wat op Waaihoek bymekaargekom het.

Die 911 Riders is ’n groep motorfietsryers wat bewustheidsveldtogte oor plaasmoorde organiseer.

Lede van die motorfietsgroep 911 Riders bid Saterdag vir die veiligheid van die boere en inwoners van die Sheepmoor-distrik waar Moolman Meyer (67) vroeër die week op sy plaas vermoor is. Foto: Isabel Venter.

In die tuin, langs ’n foto en ’n pot blomme, het ’n wit kruis gestaan met die woorde “Rus in Vrede Moolman Meyer” daarop.

Martin Struthers, ’n jarelange vriend van Meyer, onthou goed hoe Moolman hom altyd probeer “uitvang het” om ’n bietjie langer te kuier.

Hy het ’n traan weggevee toe hy vertel hoe lief sy vriend vir roomys was. En hoe hy altyd moes kopkrap oor die inkopielysies waarmee hy dorp toe gestuur is.

“Hy was maar alleen op die plaas,” sê Struthers.

Struthers het Dinsdag onraad vermoed toe hy nie oudergewoonte van sy vriend gehoor het nie. Hy het plaas toe gery om hom te gaan soek.

Hy het saam met die res van die groep op sy knieë neergesak in gebed.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA en hoof van veiligheid, sê die gemeenskap is in rou.

“Daar was al 20 plaasaanvalle tot dusver in Mpumalanga, en een plaasmoord, wat die een is waar ons nou vandag is om ons laaste eer te betoon,” sê Geldenhuys.

Hy en Moolman het mekaaar goed geken en hul plase is sowat 10 km uitmekaar.

Op sy plaas, in sy tuin, is ‘n wit kruis geplant vir die vermoorde Moolman Meyer (67). Foto: Isabel Venter

Doors sê sy pa het as jong man begin boer op die grond wat hy by sy pa oorgeneem het.

“Hy het doer anderkant eers in ’n sinkhuisie gewoon, en so begin,” sê Doors terwyl hy met sy hand na ’n plek ’n ent van die huidige opstal wys.

Sy pa het meer as 50 jaar lank geboer, maar het die laaste paar jaar begin afskaal.

“Hy was maar altyd hier, wou nooit êrens anders wees nie. Die plaas was sy lewe,” sê Doors.

Hy beskryf sy pa as ’n “tawwe ou met ’n sagte hart”.

“Hy het sy merk gelos op dié aarde, ek is trots op hom, ek eer hom, hy gaan baie gemis word,” sê Doors.

Begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie, maar daar sal na verwagting volgende Vrydag ’n roudiens gehou word vir Moolman.

moolman meyer
Lede van die 911 Riders wat Saterdag in Ermelo bymekaargekom het en na die plaas Waaihoek toe gery het om medelye te betoon aan die familie van Moolman Meyer (67) wat vroeër in die week vermoor op sy plaas aangetref is. Foto: Isabel Venter.

Meer oor:  Ermelo  |  Moolman Meyer  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.