Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Boogskiet op galop g'n maklike prestasie

Boogskiet vanaf ’n galoppende perd se rug verg nie net ’n uitstekende ruiter of skut nie, maar albei dié moeilike dissiplines.

Berede boogskiet is dalk nog ’n nuwe sportsoort in Suid-Afrika, maar word al eeue lank wêreldwyd beoefen.

Suid-Afrika se heel eerste nasionale berede boogskietspan het onlangs aan die 13de berede boogskiet-wêreldkampioenskap in Sokcho, Suid-Korea, deelgeneem.

Deirdré Janse van Rensburg in aksie. Foto: Deaan Vivier

Dié Suid-Afrikaanse nasionale span het bestaan uit Johan de Bruto (43), Deon Janse van Rensburg (52), Jaco Jacobs (52), Deirdré Janse van Rensburg (32), Michelle van den Berg (22), Vicky van Zyl (41), Nicholas Immelman (13) en Jacques Horn (14).

Marcia de Bruto, afrigter, het die senior en junior span daarheen vergesel.

Hulle moes kragte teen 90 van die beste ruiters ter wêreld van 19 lande meet.

Die Suid-Afrikaanse nasionale berede boogskietspan, wat onlangs in Suid-Korea deelgeneem het, is (van links, voor) Johan de Bruto, Marcia de Bruto (afrigter), Michelle van den Bergh, Deon Janse van Rensburg en Jaco Jacobs; agter: Nicholas Immelman, Jacques Horn, Vicky van Zyl en Deirdré Janse van Rensburg. Foto: Deaan Vivier

Jacobs, visepredent van die Suid-Afrikaanse berede boogskietvereniging (Maasa) en lid van die nasionale span, sê: “Die juniors het almal verstom deur ’n tweede en derde plek te behaal. Die top seniors was deurentyd onder die 20 beste ruiters.

“As in gedagte gehou word dat Suid-Afrika teen lande meegeding het wat al langer as 100 jaar amptelik aan hierdie sportsoort deelneem, is dit werklik ’n uitsonderlike prestasie.”

Dit het uit ’n vorm van oorlogvoering tot ’n moderne sportsoort ontwikkel.

Vicky van Zyl korrel eers mooi voordat sy skiet. Foto: Deaan Vivier

Terwyl die perd galop, moet die boogskieter binne ’n sekere tyd soveel as moontlik teikens in die verbygaan probeer raakskiet.

Punte word toegeken vir akkuraatheid en spoed. Hoe vinniger die perd hardloop, hoe hoër punt kry die ruiter. Dit is nou as hy of sy ’n sekere aantal teikens ook raakgeskiet het.

Die eerste amptelike berede boogskietklub in Suid-Afrika, Mounted Archery Pretoria, is deur De Bruto en Jacobs in 2014 tot stand gebring.

Maasa is ’n niewinsgewende organisasie wat by die Suid-Afrikaanse Ruitersport-federasie (SAEF) geaffilieer is.

Jacobs sê berede boogskiet word nou as een van die amptelike sportsoorte in Suid-Afrika erken.

Johan de Bruto, president van Maasa.

“Dit word ook nou amptelik as ’n skolesport erken. Omdat daar verskillende klasse is, kan enigiemand deelneem: van beginners tot meer bedrewe ruiters. Mans of vroue.”

Jacobs sê dié sportoort is uiters uniek.

“Dit is omdat dit twee baie moeilike dissiplines – tradisionele boogskiet, wat baie moeilik is om te bemeester, asook ruiterskap, wat weer ’n unieke veld en baie uitdagend is – kombineer.

“Om werklik suksesvol te wees moet die ruiter hom- of haarself in albei hierdie dissiplines bekwaam.”

Volgens hom word “uiters groot groei” in dié sportsoort die volgende paar jaar verwag, omdat ruiters al op skool die geleentheid kry om deel te neem.

“ ’n Nuwe dimensie van ruiterskap word ook verwag. Weg is die stereotipiese benadering in die perdesport wat tot nou toe die norm was.”

Meer oor:  Perd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.