Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Cele, Smith pak mekaar in Kampsbaai
JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, en Bheki Cele, minister van polisie, het woorde by Kampsbaai se strandgebied nadat Cele opdrag gegee het dat ’n filmspan wat ’n advertensie verfilm het, die werk moet staak. Foto: Jaco Marais

’n Bekgeveg het Woensdag uitgebreek tussen Bheki Cele, minister van polisie, en JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, nadat Cele die verfilming van ’n advertensie by Kampsbaai se strandgebied gestop het.

Cele het Woensdag verskeie Kaapse strande besoek om te kyk of besoekers daar aan die regulasies rondom die Covid-19-beperkings voldoen. Hy was by Strand, Macassar, Monwabisi, Mnandi, Strandfontein, Muizenberg, Kampsbaai, Clifton en Big Bay.

Met Cele se besoek aan Kampsbaai het hy gesien ’n rolprentspan is besig om ’n advertensie te verfilm.

Hy het toe opdrag gegee dat die werk gestaak word en gesê dat die span Covid-19-regulasies oortree.

Smith, wat ook in die omgewing was, het aan Cele gesê die rolprentspan het die nodige permitte en dat hulle geen regulasies oortree nie.

Smith het gesê die Kaapstad-metro sou nooit toestemming gegee het vir die verfilming as die rolprentspan nie aan die nodige Covid-19-regulasies voldoen het nie.

Hy het toe aan Cele gesê die advertensiespan tree binne die raamwerk van die regulasies op.

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag op Versoeningsdag verskeie Kaapse strande besoek om te kyk of besoekers aan Covid-19-regulasies voldoen. Foto: Jaco Marais

Cele wou egter niks daarvan weet nie en het voet by stuk gehou dat Covid-19-regulasies oortree word. Hy het ook vir Smith gesê dat ’n plaaslike en of provinsiale regering se gesag nie hoër is as dié van die nasionale regering nie.

“Stop dit of ek stop dit,” het Cele toe gesê.

Hy het ook aan Smith gesê totdat daar nie om ’n tafel gesit is en ’n ooreenkoms bereik is oor wat geldig is of nie, sal die verfilming van die advertensie nie voortgaan nie.

'n Buitelandse toeris lees 'n boek oor Covid-19 tydens Bheki Cele, minister van polisie se besoek aan Kaapse strande. Foto: Jaco Strydom

Smith het by navraag gesê die Kaapse stadsraad gaan ’n dringende hofaansoek by die hooggeregshof in Kaapstad indien om Cele se inmenging te stop.

Hy het gesê dit is die eerste keer dat hy sien hoe ’n politikus die polisie opdrag gee om buite die raamwerk van hul werk op te tree.

Smith het die rolprentspan aangeraai om Cele te dagvaar om die geld – sowat R1,5 miljoen – wat hulle weens sy optrede verloor het, terug te kry. Hy het gesê 75 mense is die dag daar gebruik en hulle verloor ook nou geld weens Cele se inmenging.

Smith het op Facebook gesê Cele het 16 polisielede opdrag gegee om die verfilming te stop, maar daar is nooit polisielede beskikbaar om Kaapstad se bendegeteisterde gebiede te patrolleer nie.

“So volgende keer wanneer inwoners van die Kaapse Vlakte of die townships wonder hoekom daar nie polisie is nie, dan is dit miskien omdat ’n nasionale polisieminister besig is om hulle te ontplooi in ’n poging om politieke punte te wen.”

Bheki Cele, minister van polisie, ruim 'n tydjie in vir 'n foto saam met 'n meisie tydens sy inspeksie van Kaapstad se strande. Foto: Jaco Marais

Volgens Smith was daar ’n halfuur later 30 polisielede wat moes sorg dat die verfilming nie voortgaan nie.

“Klaarblyklik is alle geweld op die Kaapse Vlakte en in die townships uitgeroei. Die afvaardiging saam met Cele op die strandbesoeke sluit in 47 beamptes en vier generale. Hoe is dit produktiewe aanwending van polisiehulpbronne?” wou Smith weet.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het gesê volgens die regulasies mag daar geen musiekfeeste en optredes op strande wees nie.

Smith het egter gesê daar was geen musiekfees nie, maar wel ’n advertensie wat verfilm is en waarvoor die rolprentspan die nodige permitte het.

Daar is egter in die jongste Staatskoerant, wat Dinsdag 15 Desember 2020 gepubliseer is, geen melding dat die verfilming van advertensies nie op Kaapse strande mag plaasvind nie.

Smith het omstreeks 18:30 op sy Facebookblad gesê dat die polisie nou sê dat verfilming Donderdag kan voortgaan. "Nadat hulle die rolprentmaatskappy gedwing het om op te hou werk en hulle gyselaar gehou het, het die SAPD sopas hier na die stel toe geloop en gesê dat verfilming môre (Donderdag) kan voortgaan. Ek hoop hulle word gedagvaar en kry 'n massiewe kostebevel teen hulle, want hulle het duidelik nou besef dat hulle verkeerd was en dat die minister hulle 'n onwettige opdrag gegee het." 

Meer oor:  Kampsbaai-Fiasko
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.