Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Chris Bertish staan-staan oor oseaan
Die dapper solo-roeier kon min saamneem, maar het steeds baie verloor tydens die tog: twee paar sonbrille, twee hoede en drie waterbottels. Hy het ook ’n klein kitaar ingepak, maar slegs 15 minute speelkans oor die uitmergelende 93 dae gekry. Foto: Brian Overfelt

Dit het die gesoute Kaapse seeman Chris Bertish 2,5 miljoen roeislae oor 93 dae gekos om sy staanroeibord van die Afrika-kus tot die veiligheid van ’n hawe in die Karibiese Eilande te roei.

En toe die 42-jarige grootbranderplankryer Maandagaand deur sowat 200 vriende en ondersteuners op die Kaapstad Internasionale Lughawe tuis verwelkom is, was die sportwetenskaplike prof. Tim Noakes in hul midde en het Bertish se rekordroeitog as “verstommend” beskryf.

“Ek dink nie mense besef hoe uniek hierdie prestasie is nie – dis een van die groot prestasies van verkenning van hierdie eeu, of die vorige eeu . . .Chris het die onbekende binnegegaan,” sê Noakes.

As bekende grootbranderplankryer en motveringspreker het Chris Bertish die aandag geniet op ’n byna uurlange mediakonferensie. Foto: Le Roux Schoeman

Bertish se roeitog het op 6 Desember 2016 om 04:30 aan die kus van Marokko begin en hom twee weke gelede ’n stewige dosis internasionale roem op sy gesonbaaide lyf gehaal met sy aankoms in Antigua aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan.

Sy geheim? “Een roei-haal op ’n slag”.

Op die mediakonferensie met sy aankoms het die seningrige Bertish met geesdrif en ’n hees stem gepraat oor lewenslesse wat hy geleer tydens die vele ontberings wat ’n reuse-inkvis, reusebranders en beserings ingesluit het. “Jammer as ek diep raak, maar dis diep daarbuite,” het die woes bebaarde Kapenaar geskerts.

Sowat 200 vriende, familie en mede-brander-en-seeliefhebbers het Chris Bertish Maandagaand ’n heldeontvangs op die Kaapstad Internasionale Lughawe gegee. Bertish het oor die Atlantiese Oseaan gestaanroei op ’n ietwat omboude weergawe van die toenemend gewilde staanroeiborde. Foto: Le Roux Schoeman
Chris Bertish se solo-tog, seelangs van Marokko tot Antigua in die Karibiese See, het in Desember begin en hom sowat 7 500 km weg van die Afrika-kontinent geneem. Foto: Le Roux Schoeman
Dis ongelooflik om (terug) te vlieg oor ’n hele oseaan wat jy pas gekruis het. Dit maak jou nederig en bang om af te kyk na hierdie enorme blou uitgestrektheid.

Sy sewejarige nefie Kodi het ook ’n vraag uit die persgalery gehad: “As jy slaap, waar los jy jou spaan?” wou die Houtbaaiertjie, wat ook kranige staanbordryer is, weet. “Ek het vier spane gehad,” het Bertish verduidelik oor die logistiek van die staanbord wat wel ombou is om ’n klein kajuit te bevat maar volgens Bertish vyf voet korter as enige ding is wat al mensgedrewe oor daardie stuk water is.

“Dis ongelooflik om (terug) te vlieg oor ’n hele oseaan wat jy pas gekruis het. Dit maak jou nederig en bang om af te kyk na hierdie enorme blou uitgestrektheid. Die reis was een meedoënlose uitdaging na die ander. Dit het my geleer hoe om vinnig te reageer ... een roeislag op ’n dag.”

Die doel van sy roeiery was geldinsameling vir onder meer Operation Smile en volgens Craig Featherby, uitvoerende hoof van Carrick Wealth, die borg, is daar reeds meer as R5,6 miljoen ingesamel en is die teiken R20 miljoen voor 31 Desember.

Meer oor:  Roei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.