Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Clegg in 'lokval van liefde' gelei met video

Suid-Afrika se geliefde Wit Zoeloe, Johnny Clegg, sê sy stryd met kanker is ’n “donker en moeilike reis,” maar die liefde wat sy musiekvriende en die publiek hom die afgelope paar dae gewys het, is ’n helder lig op sy pad.

Clegg (65) raak bewoë as hy van die verrassing praat wat hy die afgelope Woensdag beleef het toe hy die eerste keer die musiekvideo gesien het waarin 50 vooraanstaande sangers van hier én oorsee sy lied “The Crossing” sing. Dit het Clegg se asem weggeslaan, maar die publiek s’n ook. Dit is sedertdien al meer as 235 000 keer op YouTube gekyk. “Ek het geweet hulle neem een van my songs op vir ’n liefdadigheidsprojek, maar ek het nie ’n idee gehad van die omvang nie,” sê Clegg.

Hy lag. “Mens kan seker sê dit was ’n liefdeslokval.”

Clegg se seun Jesse sing ook in die video en was saam toe sy pa dit Woensdag die eerste keer gesien het.

“Dit het ’n reuseknop in my keel veroorsaak. Jy weet, relevansie en egtheid is waarna elke kunstenaar strewe. Dit lei na liefde. Daarvan het ek Woensdag in oorvloed ervaar.”

‘Dit was ’n liefdes-lokval.’

Fase 2-pankreaskanker is in April 2015 die eerste keer by Clegg gediagnoseer. Hy het daarna ’n wêreldtoer aangepak om sy aanhangers te groet. Hy het onlangs die nuus ontvang dat die kanker na sy longe versprei het. “Ek is pas klaar met chemoterapie en het al die operasies wat ek kan ondergaan, reeds deurgemaak. Nou moet ek veg,” sê Clegg.

Die video was die geesteskind van ’n paar vriende van Clegg, onder wie Karen Zoid, Kahn Morbee en Paul Harris, eienaar van die Ellerman House-hotel in Kaapstad. Aanvanklik sou dit net ’n huldeblyk wees, maar later het hulle besluit om dit te gebruik om geld in te samel vir Clegg se projek om kinders se leesvaardighede te ontwikkel.

Vir ’n oomblik is dié lewende legende oorbluf. “Sedert ons die video uitgereik het, het dit (teen gister) reeds meer as R60 000 verdien.” Clegg sê meer as 58 000 kinders het reeds uit die Johnny Clegg & Friends-fonds se werk voordeel getrek. Nou gaan nóg meer kinders Clegg se liefde ervaar.

’n Uiteenlopende groep kunstenaars – waaronder die Suid-Afrikaners Vusi Mahla­sela, Karen Zoid, David Kramer, Lira, Francois van Coke, Victor Masondo, Juanita du Plessis en Kurt Darren, die Suid-Afrikaans gebore Dave Matthews en Dan Patlansky en ander internasionale sterre soos Mike Rutherford en Peter Gabriel – het onder regie van Carien Loubser hul talente en kragte in die video saamgespan.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Lira  |  Johnny Clegg  |  Kahn Morbee  |  Karen Zoid  |  David Kramer  |  Paul Harris  |  Sangers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.