SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
Kyk Dana se Swart Hond-konsert vir Anette regstreeks

Alles is in plek vir die Swart Hond-konsert wat Dana Snyman Saterdag hou vir sy geliefde Anette Roberts met wie hy op die dag sou trou. Die konsert word regstreeks vanaf 20:00 op Netwerk24 uitgesaai.

Roberts het op Snyman se verjaardag op 4 Oktober haar eie lewe geneem.

Dana Snyman hou die konsert op die dag wat hy met Anette Roberts sou trou. Sy het op sy verjaarsdag haar eie lewe geneem. Foto: Facebook/Dana Snyman skrywer

Snyman het die konsert gereël om bewusmaking oor depressie te skep.

Die konsert word in die parkeerterrein van Kontrei Keffie op Jacobsbaai in die Wes-Kaap gehou. Daar is Vrydag ’n sinkskerm opgerig om die Suidooster, wat glo woes gaan waai, uit te hou en mobiele toilette is ook opgerig om al die konsertgangers te akkommodeer. Daar is selfs mense wat van Gauteng af kom vir die konsert.

Snyman sê hy is nie seker hoeveel mense dit gaan bywoon nie, maar dat tussen 400 en 500 kaartjies gratis uitgedeel is.

“Dis 'n bietjie skrikwekkend, ek is dankbaar vir elkeen wat kom, maar die mense wat dit bywoon moet ons net genadig wees. Die grootste ding wat ek vantevore gereël het, was my en Anette se verlowingspartytjie waar daar net 20 mense was,” sê hy. “Ek is bang ek gaan tjank.”

Die kunstenaars wat Saterdag by die Swart Hond konsert gaan optree. Foto: Facebook/Die Swart Hond Konsert en Blad

Gian Groen, Gert Vlok Nel, Wouter van Deventer en Les Javan sal by dié konsert optree. Louis Awerbuck, die sielkundige op RSG se Louis en Lisa-program, sal mondfluitjie speel tydens Nel se vertoning. Hy sal ook ’n “paar woorde praat oor depressie”.

Snyman sê hy het onderweg na Roberts se begrafnis in De Wetsdorp oorgeslaap waar Gian Groen opgetree het. Groen het "Vier Seisoene Kind" gespeel en Snyman sê Roberts was ’n “vier seisoene-kind”. Les Javan sou by hul troue gespeel het.

“Almal het ’n spesiale plek in my lewe en Anette het almal geken, behalwe vir Gian,” sê Snyman oor die mense wat by die konsert optree. Johan Bakkes is die seremoniemeester.

Roberts se pa, Jan Schoeman, is verlede week oorlede en het ook vermoedelik sy eie lewe geneem. Snyman het op Facebook gesê dat hy Saterdag ’n kers vir Schoeman sal brand.

“Die Swart Hond-beweging moet groei. Dit gaan daaroor om mense bewus te maak van depressie, veral bipolêre gemoedsversteuring. Enigiemand met ’n internetverbinding, waar ook al, sal Saterdag na ’n gedeelte van die konsert kan kyk. Die hele konsert gaan te lank wees,” het hy in die sosiale media laat weet oor waarom die konsert regstreeks op Netwerk24 uitgesaai word.

Meer oor:  Netwerk24  |  Swart Hond-Konsert  |  Dana Snyman  |  Anette Roberts  |  Jacobsbaai  |  Konsert  |  Depressie  |  Vermaak  |  Sterfgeval  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.