Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Die krag ís in gedrang, waarsku Eskom

Sabotasie en intimidasie kan daartoe lei dat Eskom nie al die ligte in die land kan aanhou tydens die huidige arbeidsoptrede nie. Dié kragverskaffer het Donderdag gewaarsku dat daar probleme kan kom weens die protesoptrede.

Die “opwekking en verspreiding van elektrisiteit oor Eskom se netwerk was Donderdag onder druk weens sabotasie en intimidasie”, het Eskom in 'n verklaring gesê.

Die kragsentrales, Hendrina, Camden, Kendal en Arnot, word veral geraak weens padversperrings, aanvalle op personeel en die doelbewuste beskadiging van die infrastruktuur.

Betogers dreig om die land se kragvoorsiening te ontwrig as hul salarisse nie aangepas word nie. Foto: Simon Sonnekus

“Om veiligheidsredes is alle steenkoolaflewerings per pad gestaak,” lui die verklaring.

By Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Gauteng, was die kragtoevoer ook onderbreek.

Buite die hekke betoog lede van die vakbond Numsa om ’n salarisverhoging van minstens 15%.

Eskom het vroeër aangekondig dat hy vanjaar geen salarisverhogings aan sy werknemers kan toestaan nie.

“Ons sal terugkom en toesien dat daar geen krag in die res van die land is nie,” het Andrew Chirwa, president van Numsa, aan betogers gesê.

Talle van die betogers dra T-hemde met die boodskap: “0% wage hike = 0 megawatts RSA”.

Vroeër is lede van die vakbond Solidariteit onder groot gejuig verwelkom. ’n Numsa-verteenwoordiger het aan die skare gesê hy skuld Solidariteit ’n verskoning omdat hy nie gedink het hulle sal by die arbeidsoptrede betrokke raak nie.

“Soos hulle sê – ’n boer maak ’n plan, en hulle het groot bootse, so hulle kan Eskom moer toe skop.”

Die betogers buite Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park in Gauteng, is meestal lede van die vakbond Numsa.Foto: Deaan Vivier

Phakamile Hlubi Majola, Numsa-woordvoerder, het Eskom as ’n wrede werkgewer bestempel.

“Hulle sê aan joernaliste julle (betogers) kry ’n jaarlikse salaris van R750 000. Waar’s daardie geld? Ons sal nou teken. Bring dit!” het sy gesê

Chirwa het bygevoeg dat Eskom bereid is om R34 miljard aan sogenaamde onafhanklike kragverskaffers te betaal, maar nie bereid is om R2 miljard te bestee aan behoorlike salarisverhogings vir sy werknemers nie.

“Die petrolprys styg, BTW styg, hulle wil Eskom privatiseer. Wat is dan nou so goed daaraan?” sê hy.

Veiligheidswagte het die hekke van Megawatt Park gesluit en staan wag aan die binnekant.Foto: Simon Sonnekus

Intussen het Eskom herhaal dat hy weens “die onwettige arbeidsoptrede” van sy werknemers nie kan waarborg dat daar elektrisitei gaan wees nie.

Khulu Phasiwe, woordvoerder, het gesê die kragtoevoer na Megawatt Park is Donderdag “onverklaarbaar afgesny”. Ses kragsentrales sukkel glo met toevoer omdat werkers die paaie daarheen versper.

’n Stemnota op Whatsapp waarin gewaarsku word oor die moontlikheid van groot ontwrigting, versprei intussen soos ’n veldbrand. Die spreker is glo ’n Eskom-kontrakteur wat waarsku dat diegene met kragopwekkers dit op bystand moet hou. Eskom het nog nie daarop gereageer nie.

Thava Govender, Eskom se hoof van kragopwekking, het reeds Woensdag toegegee dat hulle weens die “intimidasie” van werkers nie die nasionale kragtoevoer kan waarborg nie.

Meer oor:  Kragvoorsiening  |  Krag  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.