Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Dis wreed,’ sê vrou in hospitaal oor Covid-19

“Al wat ek kan sê, is moenie wag nie. Dis wreed.”

So sê die Wellingtonse sakevrou Lydia Fourie (49) in ’n emosiebelaaide video oor haar stryd teen Covid-19.

Lydia Fourie (49) in die hospitaal.

“Ek maak hierdie video om te sê Covid is nie ’n grap nie,” sê Fourie, mede-eienaar van die bou- en herstelwerkonderneming Polycoat.

In die video lê dié ma van drie skuins op haar bed in die Paarl-hospitaal. Sy het ’n suurstofmasker op en praat uitasem.

Haar jonger suster, Antoinette Hugo, sê Fourie wil mense aanmoedig om so gou moontlik mediese hulp te kry as hulle siek is omdat sy vermoedelik te lank gewag het.

“Sy het so drie weke gelede brongitis opgedoen en toe longontsteking,” sê Hugo. “Toe kry sy Covid-19 ook. Ons het geen idee waar nie.

“Sy is ’n baie hardwerkende vrou en ’n bietjie van ’n beheervraat. Sy het dalk te lank gewag om behandeling te kry.”

Fourie is Donderdag vir die virus getoets en teen Saterdag opgeneem.

Volgens Hugo kon haar suster skaars self by die hospitaal instap.

“Sy is aanvanklik by die Mediclinic Paarl behandel, maar later na die staatshospitaal oorgeplaas. Sy is baie gelukkig daar.”

Volgens Hugo wou dokters haar die naweek na die waakeenheid oorplaas en haar op ’n ventilator sit, maar sy is huiwerig vir dié behandeling.

“Sy druk nog deur, maar slaap baie min. Sy is bang dat as sy aan die slaap raak, iets drasties fout kan gaan.”

Fourie beskryf in die video hoe haar bloed verdik het, sy bloedklonte gehad het en haar niere aangetas is.

Die Fourie-gesin is van links Handré, Lydia en Wessel en Lynn-Mari.

“Ek kan nie regop sit nie, ek kan nie opstaan nie. Ek kan niks vir myself doen nie. Die ouens wat sê dis ’n politieke ding, moet hul kop laat lees. Dié ding maak mense dood.”

Sy sluit haar boodskap af: “Wees lief vir jul mense. Al wat jou hierdeur bring, is genade van Bo. Wees goed vir mekaar.”

Hugo sê Fourie se dokter was intussen in kontak met haar man, Wessel Fourie, en het gesê hulle is tevrede met haar vordering.

“Sy bestuur nog die besigheid uit die hospitaal en probeer alles met die kinders reël. Ons het nou vir haar gesê sy moet die foon neersit en rus,” sê Hugo.

Wessel en die egpaar se twee kinders, Handré (15) en Lynn-Mari (13), isoleer hulself by die huis.

Hulle fokus nou op die welstand van die gesin, en van Fourie se seun uit haar eerste huwelik, Charl van Blerk (21).

Meer oor:  Wellington  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.