Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Dit is tyd om genl. Cronjé ná 120 jaar te vergewe’

Dit is tyd om genl. Piet Cronjé te vergewe vir sy oorgawe met 4 019 Boere-krygers ná die Slag van Paardeberg in die Anglo-Boereoorlog, wat die Boererepublieke se stryd teen Brittanje ’n ernstige knou toegedien het.

'n Saluut van drie skote vir die driejaar-oorlog. Die oorlognabootsers Shaun Cronjé, MC Heunis en Swannie Swanepoel van die Oorlogspoort-kommando van die Suider-Afrikaanse Wapen-en-Ammunisieversamelaarsvereniging in Bloemfontein vuur 'n saluut af langs die Burgermonument vir gevalle Boerekrygers by Paardeberg. Die 120ste herdenking van die Slag van Paardeberg is die naweek gehou. Foto: Charles Smith

So het dr. Louis Bothma, skrywer en geskiedkundige, die naweek met die 120ste herdenking van die Slag van Paardeberg (18 tot 27 Februarie 1900) in die Vrystaat gesê. Cronjé se oorgawe het ná ’n bloedige slag en beleg gevolg.

Lord Kitchener, die tydelike Britse bevelvoerder, se totale verlies van 1 270 man (dood en gewond), was die grootste getal ongevalle wat die Britse leër op een dag gedurende die hele oorlog sou ly. Cronjé het 70 man verloor, maar in die beleg van tien dae is meer as 130 Boere dood, waaronder ook Skandinawiërs.

Ná 120 jaar blyk dit dat die bitterheid jeens Cronjé nog nie gewyk het nie.

Johan van Niekerk, eienaar van die plaas Oskoppies op die slagveld, het met die herdenking daarna verwys as ’n “onvergeefbare oorgawe” in die oë van die Afrikaners.

Daar is ook vertel van die boer van Kimberley wie se oupa saam met Cronjé oorgegee het, wat ’n bord by sy plaashek met dié woorde aangebring het: “Geen Engelse en Cronjés hier welkom nie.”

Bothma, wat die Slag van Paardeberg al dekades bestudeer, het egter gesê Cronjé se oorgawe moet in perspektief gesien word. Lord Roberts, die Britse opperbevelvoerder wat siek geword het, het 40 000 soldate en 100 kanonne ontplooi teen Cronjé, wat met waens en vroue teen die Modderrivier vasgekeer is.

Die stank en gesondheidsrisiko van lyke en karkasse van perde en osse hier in erge hitte langs die rivier moes ondraaglik gewees het.

“Baie beslis het ons Cronjé nie vergewe nie. Dit is juis die probleem,” het Bothma oor die houding oor die oorgawe gesê, waaroor Cronjé in elke geval met sy hele krygsraad besluit het.

'n Krans vir gevalle krygers. Johan Hattingh, voorsitter van die Vriende van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, lê hier 'n krans by die Burgermonument by die Paardeberg-slagveld. Die 120ste herdenking van die Slag van Paardeberg is die naweek hier gehou. Foto: Charles Smith
Obedient unto death, staan op die agterkant van die gevalle Britse offisier se grafsteen. Kol. Ormelie Campbell Hannay is deur die Boere op die plek doodgeskiet met die Slag van Paardeberg toe hy in opdrag van Kitchener die Boere se laer moes bestorm. Hier lê John Webb van Bloemfontein, 'n "hans-Kakie", 'n krans op hierdie dapper soldaat se graf.Foto: Charles Smith
Louise Scholtz van Kimberley wys die brief wat haar man, Gert, se oupa en naamgenoot, Gert Daniël Jacobus Scholtz, van St. Helena waar hy 'n krygsgevangene was aan sy pa by Kransfontein, Schmidtsdrift, Kimberley, geskryf het. Hierin verwys hy na die Afrikaners wat in die kamp die eed van getrouheid aan Brittanje afgelê het, as "verraaiers". Sy het die brief op die 120ste herdenking van die Slag van Paardeberg saamgedra. Foto: Charles Smith
Die Boere het te veld in die Anglo-Boereoorlog oorleef danksy die "stormjagers" en "maagbommen" – 'n klein, soet vetkoekie – wat hulle gebak het en lank in die saalsakke kon hou. Louisa Scholtz het 'n studie van die Boere se kos in die oorlog gemaak en van die koekies gebak sodat besoekers met die 120ste herdenking van die Slag van Paardeberg die naweek daarvan kon proe.Foto: Charles Smith
Louisa Scholtz wys haar man, Gert, se oupa, Gert Daniël Scholtz, uit op 'n foto in St. Helena se Deadwood-kamp, waar hy in die Anglo-Boereoorlog 'n krygsgevangene was. Foto: Charles Smith

“Baie van die antwoorde vir ons huidige krisis kan ons op daardie slagveld gaan leer, maar ons kan nie die lesse leer nie omdat ons verblind is deur ’n afkeer in Piet Cronjé. Soos ek in my boek Anderkant Cuito geskryf het, het Cronjé se spook weer in die Grensoorlog by Cuito Cuanavale geloop. As mens laasgenoemde wil verstaan, gaan terug en bestudeer Magersfontein en Paardeberg.”

Bothma sê ’n mens kan roemryke veldslae soos Magersfontein en die Slag van die Lomba wen, maar jy kan steeds oorloë verloor.

“Paardeberg wys ook dat die beste antwoord om aan ’n oormag te ontkom mobiliteit is. Moenie gaan armdruk teen ’n oormag op ’n terrein wat hulle vir jou gekies het nie. Bly aan die beweeg en behou só die inisiatief en laat hulle skarrel.”

Bothma het op ’n vraag of genl. Cronjé nou ná 120 jaar vergewe moet word, verwys na die G.A. Watermeyer-gedig “Laaste skietgebed van die oudstryderwat hy Saterdag langs die Burgermonument vir gevalle Boerekrygers op die slagveld opgesê het, en veral hierdie woorde: “Laat ons onthou, laat ons nie haat, die skemer roep en dit word laat, dis tyd vir oppak, tyd vir saal, tyd dat die Wit Perd ons kom haal . . .”

Meer oor:  Anglo-Boereoorlog  |  Brittanje  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.